Agri/BusinessGeneralNews

RPO vra boere om maatreëls toe te pas

Die onlangse bevestiging van bek-en-klouseer (BEK) in die Oos-Kaap en ‘n oplewing in verskeie dele van die land het “primêre produsente met rede baie bekommerd oor die huidige stand van die situasie”.

Só sê die Rooivleis Produsente-organisasie (RPO) in ‘n verklaring en verskaf hul die volgende inligting:
Bek-en-klouseer is ‘n staatsbeheerde siekte en daarom het nie die RPO of enige ander private
organisasie die mandaat om in te gryp met die prosesse oor die rapportering van of beheer
oor die situasie tensy die regering opdrag gee nie.
Die Departement van Landbou, Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling (DALRRD) het
op 2 Mei oor die mees onlangse BEK-gevalle verslag gedoen en produsente moet hulself
vergewis van die huidige situasie.
Die mees onlangse aangemelde gevalle van bek-en-klouseer was:
Vrystaat, 21 Februarie 2024 (Nog onbepaalde SAT-tipe).
KwaZulu Natal, 27 Maart 2024 (SAT 2).
Oos-Kaap, 30 April 2024 (SAT 3).
DALRRD het wel die plase waar die gevalle gevind is asook die naburige plase en gekoppelde liggings onder kwarantyn geplaas.
DALRRD het vinnig gereageer met die inenting van diere teen bek-en-klouseer in die geaffekteerde en omliggende gebiede. Alhoewel dit lyk asof die aangemelde gevalle van die Vrystaat en Oos-Kaap geïsoleerde voorvalle is met geen positiewe navolging tot op hede nie, is die KwaZulu Natal-gevalle as ‘n nuwe uitbreking beskou en by die Wêreldorganisasie vir Dieregesondheid (WOAH) aangemeld.
Gegewe bogenoemde, is dit duidelik dat sporadiese positiewe gevalle van bek-en-klouseer gedurig voorkom en produsente moet verseker dat hulle hul eie plase teen die virus beskerm en verantwoordelik optree.

Die RPO het ‘n beroep op produsente gedoen om die volgende maatreëls in te stel, indien dit nog nie gedoen is nie:
Beperk beweging: Beperk die beweging van nie net diere nie, maar ook mense en voertuie tussen plase so ver moontlik.
Maak seker dat alle nuwe diere wat ‘n plaas binnekom, onder kwarantyn geplaas word.
Ontsmet die skoene van alle mense wat die plaas binnekom met ‘n geregistreerde produk (ook ander plaasbewoners en werkers).
Ontsmet alle voertuie wat die plaas binnekom met `n geregistreerde produk.
Indien gekontrakteerde vervoer vir diere gebruik word, verseker dat die kontrakteur die voertuig skoonmaak en ontsmet voordat nuwe diere gelaai word.
Rapporteer enige verdagte beweging van enige diere.
Rapporteer onmiddellik enige kliniese tekens van bek-en-klouseer (kruppel of mank diere/sere in die mond).
Die RPO is daartoe verbind om met die BEK-situasie te help en werk saam met die res van die primêre industrie deur die Rooivleisbedryfdienste (RMIS) nou saam met DALRRD om oplossings te vind en te help met verantwoordelike verslagdoening.
Vir meer inligting, volg die skakel van die Nasionale Dieregesondheidsforum vir opdaterings: https://nahf.co.za/category/diseases/fmd/

Leave a Reply

error: Content is protected !!