Dit gaan oor ‘𝘦𝘹𝘱𝘳𝘦𝘴𝘴𝘪𝘰𝘯’ – Rudolph Willemse
Hy moes kies tussen regte en joernalistiek. ” Toe het ek besluit ek gaan regte doen en ek gaan werk, maar een of ander tyd wil ek ‘n kunstenaar word.”
Nou is die afgetrede wetskrywer Rudolph Willemse ‘n fotograaf en digter wat vanjaar al sy derde digbundel die lig laat sien het en oor agt dae verskyn daar ook twee glans koffietafelboeke met foto’s uit sy kamera.
“Ek kan my nou uitlewe in my kuns.”
Willemse en sy vrou, Emma, woon al die afgelope 11 jaar op Riebeek-Kasteel.
Hulle het Bloubergstrand vir Riebeekvallei verruil.
Een roadtrip-naweek het hulle op Riebeek-Wes by Steve Miller se Grumpy Grouse ‘n hamburger gaan eet en “ek het my verkyk aan die uitsig oor die vallei en toe besluit hier moet ‘n mens kom bly.”
Emma is ‘n konseptuele kunstenaar, kunsopvoeder en kurator. Sy werk met die konsep van verlies van plek en verplasing. Baie hiervan het sy vroeër eerstehands ervaar.
Rudolph (66) vertel hulle het mekaar op universiteit leer ken en baie jare later weer bymekaar uitgekom.
dié courant ontmoet Rudolph vir koffie op die stoep by Beans (about Coffee) waar die heerlike wintersonnetjie die oggendkoue vir ‘n dag of twee verdryf.
Volgende naweek is dit weer die jaarlikse Solo Studios-kunsnaweek op Riebeek-Kasteel.
Naas sy twee natnuwe koffietafelboeke kry Willemse se jongste digbundel, swartland, ook lewe wanneer die twee bekende kunstenaars Marcel van Heerden en Schalk Joubert dit Vrydag en Saterdag met woord en klank op die planke bring.
Daar is twee vertonings van swartland – Vrydagmiddag (9 Aug) om 17:00 en Saterdag (10 Aug) om 19:30. Bespreek hier
Van Heerden is die stem in die vertoning. Hy het vroeër ook van Willemse se vorige werk op die planke gebring en ‘n album Triptiek met ‘n keuse van gedigte uit Rudolph se drie bundels opgeneem saam met Warrick Swinney.
Willemse sê hy is opgewonde oor die vertonings en die besondere raak vertolking van sy werk.
“Ek het groot verwagtinge. Schalk se musikaliteit en aanvoeling is verstommend. Hy verstaan.”
Joubert en Van Heerden sal ná die Vrydagaand se optrede beskikbaar wees vir diegene wat CD’s wil laat teken.
Saterdag om 12:00 het Willemse ook ‘n gesprek oor swartland en die nuwe fotoboeke met die bekroonde digter, taalpraktisyn en radioman dr. Daniel Hugo.
dié courant het vroeër vanjaar met Willemse gesels oor swartland.
Daarin praat hy oor “jou veranderende wêreld en hoe cope jy daarmee.” Ook soos die jare in jou are meer word en jou jare hier minder.
Hy pen oor inkommers en oor reis. Oor die Swartland en sy dorpe en hoe ook die streek verander. Dan ook verder deur die land en… die reis na binne.
Ons gesels nou weer oor die gehalte van joernalistiek en sy regsloopbaan. Hy praat oor die nuwe politieke wendinge en hoe hy in die 90’s talle wette vir ons land se nuwe bestel geskryf en help skryf het. Onder hulle tel die wet oor die NHBRC (Nasionale Huisbouersregistrasieraad) en die Huurbehuisingswet.
“Dit was ‘n fascinating tyd in my lewe. Die lekkerste tyd van my prokureursloopbaan. Ek het saam met vooruitdinkende mense gewerk. Dit was opwindende tye.
“Dit was ook woordgoed – jy moet jou woorde fyn kies.”
Daarna was Willemse ‘n kommersiële prokureur en betrokke by finansiering, banke en versekering. Onder andere met die behuisingsfinansiering van vigs-positiewe kliënte en later ‘n regsman en direkteur by ‘n groot finansiële instansie se finansieringsarm.
Hy het al baie gereis – plaaslik en in die buiteland – en reis steeds.
Sy fotografie het as kind begin (“Ek was seker so 12.”) Met daardie klassieke Kodak Instamatic 133.
“My ma het altyd gevra hoekom neem jy hierdie gebou af. Jy moet mense afneem. “
“Die fotografie en digkuns het maar die hele tyd geloop.”
Die bekendstelling deur Elizabeth Miller-Vermeulen van sy twee nuwe koffietafelboeke – albei eintlik maar reisverhale van hoe die wêreld van ver en van naby deur dié kunstenaar se bril lyk – is Donderdag, 8 Augustus om 15:30 by Pictorex.
Dit is ook by Pictorex waar hy tydens Solo Studios (9 tot 11 Aug) aan ‘n groepuitstalling deelneem.
Die twee koffietafelboeke is #roadtrip en abstractions.
In #roadtrip dokumenteer Willemse plek, geboue – veral gestroop van groot fanfare en tierlantyntjies – en ook landskap. Maar as ons praat van “dokumenteer” dan is dit ver verwyderd van die geykte “record shots” wat “fotografiepuriste” en -beoordelaars so goedkoop links en regs slinger as hul ander se werk beskryf)
Van Koringberg tot Hanover. Redelinghuys tot Riemvasmaak. Paternoster tot die Groot Marico. #roadtrip eggo waardering vir die egte. Dit sypel helder deur soos skemersonstrale uit die wolke.
Dié boorling van Blyvooruitsig by Carletonville het nie verniet in die vorige onderhoud verduidelik dat eenvoud vir hom en Emma belangrik is nie. “Ons lewe op die grond. Ons is nie bling-mense nie.”
Die tweede koffietafelboek, abstractions, is ook ‘n reisverhaal. Maar nader. Abstrakte fotokuns. Uittreksels. Ingezoem. ‘n Visuele reis. Teksture.
Talle ook met ‘n gestroopte, halfgestroopte, verslete en verlate realiteit.
Oppervlakke. Water. Advertensieborde. ‘n Besondere versameling!
Beide boeke het ‘n beperkte oplaag (“limited edition”) van 150.
Ons gesprek gaan na ‘n naam (beskrywing) by ‘n foto: “Ek glo ‘n foto moet eintlik vir homself spreek, maar dit is ‘n illusie. As jy nie vir die kyker sê waarna hy kyk nie, gaan hy nie noodwendig weet nie.
“Met ‘n abstrakte foto maak jy die kyker los van die konteks,” voeg hy by. “So jy moet hom terugbring en hom help en vir hom sê waarna hy kyk.”
Maar hoekom doen jy hierdie?
“Ek wou nog altyd. Ons soek almal ‘n platform waar jy jou goed, jou kuns, kan wys. Dit maak my lewe sinvol.
“Ten minste as ek dood is, is daar ‘n bewys dat ek geleef het.”
Is fotografie ‘n kuns?
“Ja, maar ek dink nie alle fotografie is kuns nie. Maar dit is ‘n kunsvorm. Baie keer vra hulle vir jou wat is jou medium, bv. swart en wit of kleurfotografie.
“Soos jy sal sê dit is ‘n screenprint of ‘n painting. So dit is ‘n erkende kunsvorm.
“Jy kry dokumenterende fotografie, maar sodra jy formele elemente van kuns begin gebruik is dit meer as net ‘n goeie foto.
“Die lensopening, sluiterspoed en ISO is nie vir my al waaroor dit gaan nie.
“Dit gaan oor expression.
“Dit gaan oor composition.
“Dit gaan oor hoe jy dink. Wat sien mens.
“Ek is nie ‘n puris nie. Ek haal kolletjies en goed uit met sagteware, maar ek kyk na komposisie, nie na ratios nie.”
Daar is nog twee fotoboeke wat hy wil doen, “dalk drie of dalk vier”.
“Daar is ‘n #world wat ek nog wil doen en dan ook een vir die familie.
“Die proses dwing my om die bestes te gaan haal. Dit is ‘n goeie dissipline.”
Ons gesels oor uitstallings en hoe jy dit saamstel.
“Toe ek in standerd sewe was het Ricky Nelson Garden Party gesing:
“You see, you can’t please everyone
So you got to please yourself.”
Die boeke en individuele foto’s is besikbaar. Kontak Willemse by rudolph.conceptual@gmail.com
*Emma is een van solokunstenaars wat weer vanjaar aan Solo Studios deelneem. Meer inligting