EntertainmentLatest

Rudolph Willemse gesels oor swartland

“Swartland is hierdie geografiese gebied.
“Maar swartland is ook ‘n simbool vir die land. Plek sonder krag. Die donker Afrika.”
Rudolph Willemse se nuutste digbundel, swartland, word Saterdag by ‘n Dag Vol Woorde op Riebeek-Kasteel bekendgestel saam met die nuutste bundel van Andries (de Beer) van Pretoria.
Beide bundels word uitgegee deur Turksvy Publikasies.
dié courant het met Willemse gaan gesels.


Willemse (65) sê die Swartland is “nie ‘n maklike omgewing nie” maar hy het lief geraak vir die plek.
Die “hardheid herinner my soms aan die Wes-Transvaal waar ek vandaan kom.”
swartland is dié afgetrede regsman, -adviseur en wetskrywer se derde bundel. (Die eerste twee is sy debuutbundel, Kweekskool – Perskor, 1982 en Middelman – Toga, 2005.) Elkeen om en by twee dekades uit mekaar.
Kweekskool was die jeugdige intellektueel en Middelman die middeljarige. swartland voltooi as’tware die sirkel – die ouer man.

Oor hom en sy vrou, Emma (‘n bekroonde konseptuele kunstenaar), vertel hy eenvoud is vir hulle belangrik. “Ons lewe op die grond. Ons is nie bling-mense nie.”
Hulle het 11 jaar gelede in die Swartland kom woon nadat hulle ‘n tydjie in Blouberg was.
Daardie “sonder bling“, half op die man af soos in die regswêreld, skyn duidelik deur in dié boorling van Carletonville se werk. Hy het twee meestersgrade in die regte behaal. Daar is nie onnodige woorde nie, maar dit is nie stomp nie. Allermins. Geweeg en net genoeg om die scenario te skep … en in te kleur.
Naas sy digkuns en verkeie gepubliseerde kortverhale, is Willemse ook ‘n fotograaf wat al heelparty uitstallings gehou het en die laaste klompie jare was hy ook betrokke by die vervaardiging van twee kunsfilms.

Rudolph Willemse Foto: Ad Goedhart

Hy “verkies die aardse en die onopgesmukte. Die gestroopte. Dit met karakter en integriteit.”
In die warm Swartlandse somer kuier ons om ‘n tafel onder ‘n groot boom in hul tuin in Hoofstraat.
Van sy werk verskyn oor jare in letterkundetydskrifte en in verskeie versamelbundels waaronder die Groot verseboek.
Hy gesels oor die redigering van die nuwe bundel. “Ná jare in die korporatiewe wêreld het ek opnuut met ‘n skok besef hoeveel woorde in Afrikaans jy vas skryf asook die tegniese skryfreëls. En jy dink eintlik jy ken die taal.” Hy praat met lof van Daniel Hugo wat by die redigering betrokke was. “Ek het baie respek vir hom as ‘n vakman.”
Oor dig en die proses: Die gedigte “is maar ‘n reël wat in jou kop kom, dan begin jy bou.
“Dan gaan lê die goed in jou onderbewuste en werk dit met jou.
“Dit word dan soos ‘n speletjie. Amper soos ‘n skaakspel met jouself. ‘n puzzle wat jy bou.”
“In die ou dae het ek opgestaan en met ‘n stuk papier by ‘n tafel gaan sit.
“Deesdae stuur ek vir myself ‘n message op my selfoon uit die bed uit.”

Verandering
“As jy een woord soek waaroor dit als gaan, is dit verandering en hoe jy sukkel met verandering. Dit is eintlik waaroor swartland gaan.
vooraf

…watter wortels klou, watter takke groei
uit hierdie klipperige gemors? mens,
jy sal nie weet nie….

swartland bied eers ‘n blik op die streek en op spesifieke dorpe.
sommige van die gedigte oor buurdorpe praat met mekaar. Willemse se ervarings daar en kommentaar.
Ook oor toeriste wat deurreis en inkommers in verskillende personas. Ons gesels oor die feit dat almal eintlik maar inkommers is. Willemse sê die dinge maak hom baie emosioneel. “Die arrogansie van mense en hul gebrek aan respek vir plek en vir mense.”
swartland is ‘n reis. Die wegtrek hier in dié renosterbosstreek. Gedigte soos die swartland wat ek ken na ashwin arendse (…sonder tierlantyntjie of fieterjasie …), biddag vir reën (…die kollekte is nie meer wat dit was nie en die reënboognasie het verdamp…), blouberg, ontwikkeling, moorreesburg, koringberg.
Ook smuts-museum, riebeek.

Dan kry die reis koers. N1, Richmond, die hel. hotelkamer, sandton. gastehuis, Kaapstad.
Draai ook by die Wildekus jare gelede die gat in die muur vir lourens du plessis en aan die Weskus by wolfgat-spyskaart.
Die reis maak wye draaie. Ook deur ‘n Springbokspan van weleer: span#senseofloss.
dan raak dit donkerder.
beurtkrag, nag, geliefde land

En kom dit al nader. Dit raak nog donkerder. Donker.
“So al asof jy op pad uit is,” sê ek.
Willemse lag met oorgawe.
“Die wêreld is maar ‘n donker plek en swartland is ten laaste ook ‘n psychological state.
“Daar gaan dit maar oor dood. Al die mense wat doodgaan om jou. En ook ‘n ander fase waarin ‘n ou beweeg. Ek het nou afgetree en jy begin nou maar al jou oumenskwale kry.
“So dit is persoonlike gedagtes in ‘n donker kamer.”
Hy vertel hy werk ook “aan ‘n bundel kortverhale, maar hulle kom maar stadig. Oor goed wat gebeur.”

Middelman
Middelman is destyds verwerk tot verhoogproduksie vir die Klein Karoo Nasionale Kunstefees op Oudtshoorn.
Willemse se werk word reeds geruime tyd deur die akteur en stemkunstenaar Marcel van Heerden vertolk – meesal met klankeffekte en musiek vir die verhoog.

Die album Triptiek – ‘n keur uit sy drie bundels – is nou pas vrygestel en by Bandcamp beskikbaar. Gelees deur Van Heerden. In onverwerkte formaat, “gestroop, unplugged as jy wil. Met die teks en die stem wat voorop staan.”
In swartland is daar twee begrafnisbriewe, gedig vir ma, as jy moet kies, behoud, leonard cohen en ook
ongekend
….mens moet veral jou spekbome plant
jou gasmasker afhaal
gemakskoene aantrek vir die reis
en halleluja-liedere sing…
vir ’n onbekende tyd…

Leave a Reply

error: Content is protected !!