Lillies dra die kroon
Saam met Darling in Top 12
Die eerstespan van Abbotsdale het vanjaar met ‘n uitstekende lopie in die Swartlandafdeling van Boland Rugby se Grootuitdaagliga as kampioen uit die stryd getree.
Lillies het eintlik nog een wedstryd oor, maar reeds die titel verower.
Hulle het ná die afgelope Saterdag se sege van 53-19 oor Moorreesburg reeds 81 ligapunte opgestapel.
die laaste keer wat Abbotsdale ‘n liga kon wen, vertel Heinrich Robertson van die klub, “was in 2005 toe hulle kon promoveer na die destydse Boland Superliga”.
Darling het hul maak-of-breek-kragmeting om die tweede plek teen die besoekers van Porterville met 48-29 gewen om laasgenoemde uit die top-twee te hou en so die tweede plek op die podium verseker met 77 ligapunte.
Porterville (72 punte) en Wesbank (71 punte) het onderskeidelik derde en vierde geëindig.
Laasgenoemde drie spanne het reeds al 20 hul ligawedstryde voltooi.
Beide Abbotsdale en Darling het nou deurgedring na die Sanlam Boland Top 12-kompetisie. Die kompetisie word in twee groepe beslis en die loting van die spanne vind op 25 September plaas.
Die 12 spanne in dié kompetisie is: Abbotsdale, Caledon, Ceres, Darling, Eagles, Robertson Town, Newtons, Safcol, Saldanha, Young Spurs, Villagers Worcester en Vredenburg.
In ‘n ander Swartland-ligawedstryde die afgelope naweek, die derby tussen Riebeek United en Good Hopes, het Riebeek United, wat 9de op die punteleer was, verras deur Good Hopes (5de) met 37-29 te klop en op te skuif in die agtste plek.
In die ander wedstryd van die naweek het Wesbank hul tuiswedstryd teen Villagers Wittewater met 38-15 gewen.