Entertainment

Opwindende program by Tuin van Digters

Die jaarlikse Tuin van Digters-fees vind Vrydag en Saterdag (13 en 14 September) vir die 13de agtereenvolgende jaar by die Breytenbach-sentrum met sy digterstuin op Wellington plaas.
Die fees vier die Afrikaanse digkuns en vanjaar word wyle Ingrid Jonker as digter gehuldig. Jonker, wat op 19 September 1933 gebore is en op 19 Julie 1965 oorlede is, sou nou in haar 90ste lewensjaar wees. Die oorhandiging van die Ingrid Jonker-prys vir ‘n debuutbundel sal ook by die fees plaasvind.

Besoekers kan weer uitsien na ‘n opwindende en unieke program met onder meer kunsuitstallings, gesprekke met/oor digters, getoonsette gedigte en voorlesings.
Die program sluit in:
Die opening van die kunsuitstalling Str(a)y deur Elizabeth Gunter in die Breytenbach Galery en van ’n foto-uitstalling In die Skeppende Oomblik deur wyle Paul Alberts in die die Cloete Gemeenskapsgalery.
Die digter, toonsetter en sanger Ilana de Vlakte sing gedigte van Ingrid Jonker asook van haar eie getoonsette gedigte.
Digwoorde en klassieke sang span ook saam met die sing van toonsettings van Ingrid Jonker en Breyten Breytenbach se gedigte deur Elizabeth Marais (sopraan), Corniël Calitz (bas-bariton) en Lara Kirsten (klavier). Die komponis is Andre Strijdom.

Daniel Hugo en Rudolph Willemse in gesprek

Rudolph Willemse van Riebeek-Kasteel in gesprek met Daniel Hugo oor Willemse se derde digbundel, Swartland (Turksvy Publikasies), en ook oor sy fotografie. Die gedigte handel nie net oor die Swartland as “geografiese plek” nie, maar ook oor Willemse se eie “kopruimte”.
Onder die leiding van Diana Ferrus, die bekende prostesdigter, het Mengelmoesdigters ‘n klompie jare gelede ontstaan. Ferrus en van dié digters bring ook hul werk na Tuin van Digters – Theresa Carstens, Merle Danhouse, Gaireyah Fredericks, Fiona Fertyn, Jadrick Pedro, Naidene Lottering en Sophia Oliphant.

Prof. Bernard Odendaal gesels met digters wie se bundels onlangs verskyn het – Jaco Barnard-Naudé, André le Roux, Hennie Nortjé.
Rafel is ‘n poësie-musiekproduksie met Andries de Beer, Kristi Boonzaaier en Norra Marris.
Daar is ook ‘n “open mic”-geleentheid vir enige digters of voornemende digters om hul werk voor te dra of voor te lees.
Die digter Lynthia Julius (Kinderlê) en Alwyn Roux, wie se debuutbundel Weerskyn vanjaar verskyn het, vra mekaar uit oor hulle onderskeie bundels en lees daaruit voor.

Die gevierde pianis Rocco de Villers maak musiek en lees voor uit sy digbundel Die Eiesoortiges.
Danie Marais vorige wenner van die Ingrid Jonker-prys vir ‘n debuutbundel, en die sanger en liedjieskrywer Riku Lätti, praat saam oor mekaar se jongste digbundels, Marais se ek en jy bestaan nie en Lätti se Taboek.
Daar is ook ‘n afsluitingskonsert met rocker Willlim Welsyn en sy Sunrise Toffees.
Kaartjies is beskikbaar by: https://www.quicket.co.za/events/268554-tuin-van-digters-2024/#/

Leave a Reply

error: Content is protected !!