Gemengde welslae vir graanboere in 2024
Die Swartlandse graanoeste is al ‘n paar weke in die silo’s en daar was vanjaar gemengde welslae vir graanboere.
Ons het by Overberg Agri se landbou-ekonoom op Moorreesburg, Suzanne Lureman, aangeklop vir ‘n klompie syfers en perspektiewe op vanjaar se oes.
![](https://diecourant.co.za/wp-content/uploads/2024/12/Adv-PNA-Malmesbury-Back-to-school-2024-5-1024x643.jpg)
Lureman sê: “2024 was ‘n uitdagende jaar – die seisoen het droog afgeskop en die meeste boere moes plant sonder vog in die grond.
“Die reën het vir lank weggebly tot die eerste week van Junie toe dit vir vyf dae aaneen gereën het. Dit is gevolg deur Julie se gemiddelde reënval van 138mm vir die streek teenoor die langtermyngemiddelde vir Julie van 63,6mm.
“In Julie 2024 is ook die koudste gemiddelde dagtemperature in byna 60 jaar aangeteken.
“Tydens die Swartland se groeiseisoen – April tot September – was daar ryp, hael en temperature bo 40°C.”
![](https://diecourant.co.za/wp-content/uploads/2024/12/reenval-1024x539.jpg)
![](https://diecourant.co.za/wp-content/uploads/2024/12/reenval-oor-die-jare-1024x427.jpg)
Lureman voeg by: “Die noordelike dele van die Swartland (Koringberg, Piketberg en die Rooi Karoo) het goeie opbrengste gerealiseer. Hierdie streke is bekend om eerste “op te droog” en was dit moontlik die faktor wat vanjaar in hul guns getel het.
“Ons tradisioneel natter gebiede in die Swartland – die meer suidelike dele – wat gewoonlik baie hoër opbrengste lewer, het ongelukkig vanjaar baie reën in die groeiseisoen ontvang en het versuiptoestande tesame met die koue weertoestande die oeste benadeel.
“Die grade (kwaliteit) van die koring was egter deur die hele area ondergemiddeld weens lae proteïene. Die hoë reënval in Julie tesame met lae temperature kon gelei het tot laer opname van voedingstowwe uit die grond, wat moontlik die laer grade kan verduidelik. Ongelukkig het die kanola ook gely onder dieselfde omstandighede.”
![](https://diecourant.co.za/wp-content/uploads/2024/12/Astron-ama-winna-2-865x1024.jpg)
Voor vanjaar se oes het Graan SA ‘n brief gesirkuleer en daarin met sy “koringprodusente gesimpatiseer oor die finansiële uitdagings wat hulle tans beleef. Graan SA sal voortgaan om die omdraaistrategie vir koring te implementeer om sodoende die volhoubaarheid van koringproduksie in Suid-Afrika te probeer verseker.”
“Die gemiddelde opbrengs in die Wes-Kaap is 2,88 ton per hektaar oor die afgelope vyf jaar. Teen 2,88 ton per hektaar breek ‘n produsent net-net gelyk, wat nie volhoubaar is nie.”
Lureman sê aan dié courant die finale opname van die Swartlandstreek se graanopbrengste is nog nie gefinaliseer nie, maar sy stem saam dat dit ‘n ondergemiddelde oes was in die Swartland.
“Vir kanola in die Swartland werk ons bv. op ‘n 5 jaar-gemiddelde opbrengs van 1,5ton/ha. Weer eens, die huidige inligting ingevorder, is nie voldoende om ‘n finale gevolgtrekking te maak rakende die onlangse oes nie, maar met die inligting op hande vermoed ek 2024 se kanola-oes gaan net-net raak aan 1 ton/ha.”
![](https://diecourant.co.za/wp-content/uploads/2024/10/5cdc45cb-818c-43bd-8215-0ef93b4ae45e-1.jpeg)
Die Buro vir Voedsel- en Landboubeleid (BFAP) het vroeër vanjaar in ‘n verslag oor graan ‘n grafiek van 5 jaar se Safex-pryse vir koring, kanola en gars ingesluit. Daarin kan die val in die pryse sedert die hoë vlakke van 2022 gesien word.
![](https://diecourant.co.za/wp-content/uploads/2024/12/Safex-Des-Koringprys-1024x309.jpg)
BFAP se begrotings vir die Wes-Kaap word gesamentlik opgestel is deur Overberg Agri, Kaap Agri, Graan SA en SSK.
Luidens dié verslag van BFAP wissel die gelykbreekpunt vir graanopbrengste in substreke van die Swartland soos volg:
Koring (gelykbreekpunt):
Suid-Swartland – 1,89 ton/ha
Moorreesburg, Malmesbury & Porterville – 1,84 ton/ha
Darling-vlakte – Hopefield – 1,58 ton/ha
Rooi Karoo – 1,42 ton/ha
Kanola (gelykbreekpunt):
Suid-Swartland – 1,14 ton/ha
Moorreesburg, Malmesbury & Porterville -1,07 ton/ha
Darling-vlakte – Hopefield – 0,94 ton/ha
Rooi Karoo – 0,9 ton/ha