LatestSports

Wesbank nog voor in ‘3 horse race’

In hierdie stadium lyk dit na ‘n “3 horse race” om ‘n plek in die Top-12 in die Swartland-streek van Boland Rugby se grootuitdaagkompetisie, maar daar is moontlik nog kans vir ‘n buiteperd.
Die voorste twee spanne in elk van die ses streke dring deur na die provinsie se Top-12-kompetisie.

Al het sommige spanne in ide Swartland nog sewe wedstryde oor in hierdie tweede helfte van die seisoen, het ander slegs ses en vyf oorblywende kragmetings.
Wesbank is steeds in die eerste posisie en dit lyk tans of dié span moeilik uit ‘n plek in die provinsie se Top-12 gehou gaan word. Hulle het nog vyf wedstryde om te speel. Die Koringboere pak volgens die bepalings die komende Saterdag vir Porterville (tuis) en in die daaropvolgende rondes vir Voorberg (weg), Abbotsdale (weg), Darling (tuis) en Riebeek United (weg).
Al is daar op enkele teenstaanders na nie maklike wedstryde nie, behoort Wesbank nou die Top-12 te haal as daar nie iets drasties verkeerd loop nie.
Hulle het die afgelope naweek dit egter nie maklik gehad nie. Die Koringboere het gasheer gespeel vir Villagers Wittewater teen wie hulle vroeër in die seisoen naelskraap vasgeval het.

Die besoekers was Saterdag weer vuur en vlam en het die eerste helfte van die kragmeting gewen. Die spanne het gaan water drink met Villagers Wittewater wat toe voorgeloop het met 17-15. Die tuisspan het egter in die tweede helfte na ‘n ander rat oorgeskakel en 24 punte opgestapel om uiteindelik die besoekers oortuigend met 39-20 te klop.
Saron is die ander span wat tans in ‘n Top-12-posisie lê, maar Abbotsdale (steeds derde) het nog twee meer wedstryde om te speel en as hulle die maksimum aantal punte uit elke wedstryd kan haal, is Lillies beslis ook nog in die wedloop.
Saron het Saterdag op Riebeek-Kasteel teen Riebeek-United kragte gemeet en 5 ligapunte verdien met hul sege van 36-44.
Hulle speel volgens die bepalings die komende naweek weg teen Voorberg en in die weke daarna tuis teen Moorreesburg, tuis teen Good Hopes, weg teen Mamre en weg teen Never Despair.

Abbotsdale (tans derde) het Saterdag hul tuisderby teen Never Despair met 38-30 gewen.
Vir Lillies, wat tans nege ligapunte agter Saron lê, is daar nog sewe wedstryde oor nadat twee kragmetings vroeër uitgestel moes word.
Volgens die bepalings speel hulle Saterdag weer tuis. Dié keer teen Moorreesburg wat tans in die 10de plek op die punteleer lê.
Hul ander ses oorblywende wedstryde is weg teen Darling, tuis teen Wesbank, tuis teen Good Hopes, weg teen Porterville, weg teen Voorberg (uitgestel) en weg teen Mamre (uitgestel).
In die ander drie kragmetings van die afgelope naweek het Moorreesburg (tuis) vir Darling met 26-22 geklop; Porterville (weg) met 34-27 oor Good Hopes geseëvier en Mamre (tuis) met 57-28 maklik met Voorberg afgereken.
Mamre, tans vierde, is goed op dreef en het ook rede om te glo dat hulle nog ‘n kans staan om in die Top-12 te speel as van die voorste drie spanne in die komende weke teëspoed optel.
Die bepalings vir die komende Saterdag (tuisspanne eerste) is:
Wesbank teen Porterville
Darling teen Good Hopes
Abbotsdale teen Moorreesburg
Villagers Wittewater teen Never Despair
Riebeek United teen Mamre en
Voorberg teen Saron.

Leave a Reply

error: Content is protected !!