Solo Studios brei vanjaar groot uit
deur Johan Viljoen
Ná ‘n beskeie begin in 2016 het die Solo Studios in die Riebeekvallei elke jaar met gemiddeld 20% gegroei in besoekertalle én verkope en hoop organiseerder op ‘n toename van 50 persent vanjaar.
Só het Klaus Piprek, stigter en hooforganiseerder van dié projek, Sondag by die amptelike bekendstelling van vanjaar se program gesê.

Om die toename in besoekers en verkoopsyfers te help verseker, behels Solo Studios vanjaar van 8 tot 11 Augustus ‘n aansienlik groter aanbieding met etlike nuwe toevoegings tot die program.
Naas die agttien studiokunstenaars wat deelneem en hul studios oopgooi, sluit vanjaar se program ook ‘n ‘Craft Emporium’, kunsuitstallings, ‘n klei-uitstalling, foto-uitstallings, ‘n visuele digkunsproduksie, verskeie musiek- en sanguitvoerings in van Riebeek-Kasteel se gewilde restaurante asook Solo Kitchens waar enkele private huise hul kombuise eenmalig oopstel vir intieme koservarings. Die eerste Solo Kitchens word deur Sean Cleary gereël.
Omdat Solo Studios sedert sy ontstaan nog nie ‘n hoofborgskap van ‘n besigheid of ‘n owerheid ontvang het nie, het elkeen van die agttien studiokunstenaars vanjaar ‘n unieke werk geskep vir fondse om die projek te help finansier. Die werke is almal op papier en vir talle van die kunstenaars ‘n ongewone medium, wat dit juis uniek maak.
Die agttien kunstenaars is Jenny Parsons, Claudia Gurwits, Greta McMahon, Philip Barlow, Leila Fanner, Tamlin Blake, Riaan van Zyl, Donker Jonker, Louisa Gerryts, Gordon Williams, Solly Smook, Li Nepgen, Emma Willemse, Anthony Harris, Wiehan de Jager, Tanya Majo, André van Vuuren en Ade Kipades.
Piprek het aan dié courant gesê dat verlede jaar se Solo Studios na raming ‘n inspuiting van ongeveer R7 miljoen vir die vallei tot gevolg gehad het met die talle ekstra mense wat die naweek meegemaak het, al het hulle nie amptelik kaartjies gekoop nie.
Hy het by die opening weer ‘n beroep op inwoners van die vallei gedoen om die projek te help bemark omdat dit ‘n groot inspuiting is.
“Die vallei is die laaste paar jaar deur ‘n moeilike tyd met die droogte en die gevolglike kansellasie van die olyffees verlede jaar asook optogte en meer onlangs ook die lasverligting, maar daar is reeds ‘n positiewe gevoel te bespeur en ons is optimisties dat ons vanjaar die toename in getalle sal sien.”
Die ses restaurante wat deel uitmaak van die musiekaanbieding, Solo Sessions, met musiek en sang deur die loop van die naweek, is La Parrilla, Eve’s Eatery, The Alchemist, Kasteelberg Bistro, Mama Cucina asook Red Tin Roof.
Solo Studios se program sluit weer kort staptoere onder leiding van kunskenners na die ateljees van kunstenaars, kunslesings en paneelbesprekings met bekendes soos Michelle Constant, Khanyisile Mbongwa, dr. Mike Mavura en Andi Norton in.
Een van die kunstenaars Herman Jonker woon al ‘n dekade in die vallei en sy gepubliseerde werke sluit 5 boeke en honderde tydskrifartikels met ‘n groot komponent kontreihumor in.
As Hashimoto’s-lyer (wat bydra tot lang eensame tye van depressie) gaan hy as Donker Jonker met die produksie Kopkamer hom tot die lig wend oor hierdie steeds soms taboe-onderwerp. Sy skerp en soms onstellende poësie sal gestalte kry in ‘n multimedia-aanbieding.

Die werk van Anton Momberg, bekend vir sy realistiese beeldhouwerk met die vroulike liggaam as hooftema, sal ook op uitstalling wees.
Vir Solo Studios 2019 sal Pictorex weer die drukwerk van kunswerke van verskeie solo-kunstenaars hanteer, wat dié werke van van die gevestigde kunstenaars meer toeganklik maak vir die algemene publiek.
Pictorex sal ook ‘n foto-uitstalling hou met werke van vier plaaslike fotograwe: Rudolph Willemse, Maree Louw, Mary Walker en William Walker.
Ad Goedhart sal ook weer sy “opslaanateljee” vir professionele portretfoto’s daar behartig.
Weens onder meer die beperkte spasie van kunstenaars se studios, het die organiseerders sedert die begin van die projek besluit dat getalle beperk sal moet word. Dit is vanjaar weer die geval. Kaartjieverkope skop vandeesweek af en belangstellendes kan op die webwerf www.solostudios.co.za die skakel volg na die webtickets-werf. Besoek ook gerus die facebook-blad van Solo Studios.