Schools

Daar is nie resep – harde werk, sê top-matrikulant

Frank Mouton van Riebeek-Wes en oudleerder van die Hoërskool Swartland en Laerskool Riebeek-Kasteel is die Weskus se top-matrikulant vir 2019 en sy kop staan nou in die rigting van die handelsfakulteit op Stellenbosch.

“Ek wil beslis in ‘Commerce’ ingaan en gaan nou B-rek studeer. Wat daarna gebeur sal die tyd leer.” Hy gaan nie in ‘n koshuis woon nie.
Mouton het aan dié courant vertel sy gunstelingvak is ekonomie en dan rekeningkunde. Hy het in die pas afgelope eksamen ‘n gemiddelde van 93,9% behaal met sewe onderskeidings en met sy hoogste punt vir besigheidstudies op 99%.
Mouton het Engels as huistaal geneem.
Hy is die enigste kind van Simon en Karina Mouton. Hulle bedryf ‘n reisonderneming en sy pa is ook ‘n praktiserende advokaat.

RESEP
Gepols oor die resep wat hy gevolg het om so suksesvol te wees, sê Frank: “Daar is nie eintlik ‘n resep nie. Dit verskil van mens tot mens.
“Dit hang af wat vir jou werk en wat jy wil behaal. Dit is belangrik om verskillende studiemetodes te probeer en te kyk wat vir jou werk.
“Ek is ‘n visuele leerder. Het in ‘n stadium vir mondelinge hardop voorgedra en ‘n klankpname gemaak en dit teruggespeel, maar dit het nie vir my gewerk nie. My studiemetode is maar om opsommings te maak in “bullet-vorm” en so te leer.”

HOËRSKOOL SWARTLAND
Hy sê voorts: “Die Hoërskool Swartland is beslis ‘n baie goeie skool en net so goed soos enige ander top-skool en was akademies baie goed vir my.”
Op die vraag oor watter onderwyser in sy skoolloopbaan hy sal uitsonder: “As ek ‘n onderwyser moet uitsonder is dit mnr. Brand. “Hy het my bietjie laat wakker skrik toe ek swak gedoen het in sy vakke. Ek het in ‘n stadium nie so goed gedoen soos voorheen nie. Toe het ek en hy bietjie gesels en ek het toe besef ek moes harder werk.”

CHELSEA FOOTBALL CLUB
Mouton is ‘n groot sokkerondersteuner en sê hy speel dit ook graag en probeer om nie ‘n wedstryd op die kassie te mis nie.
En as jy ‘n groot sokkerondersteuner is, moet daar mos ‘n span wees: “Chelsea Football Club natuurlik,” antwoord hy.
Frank sê hy het voorheen gelees, maar vir ‘n tyd opgehou. Nou het hy weer begin lees. Hy kyk ook Netflix-reekse soos You en 13 Reasons Why.

Leave a Reply

error: Content is protected !!