Darling Sewes vier 20 j dié naweek
Alle sewes-rugby en netbalpaaie lei dié naweek na Darling waar die Darling Rugbyklub se 20ste Sewestoernooi môre plaasvind.
Dié gewilde toernooi het vanjaar weer ‘n sterk veld rugby- en netbalspanne getrek wat om die onderskeie titels sal meeding op die Gabriël Pharaoh-sportterrein.
Met prysgeld van R30 000 sal die spanne alles in die stryd werp om as kampioene gekroon te word in dié spesiale 20ste bestaansjaar.
Die Darling Rugbyklub het verlede jaar ‘n uitstekende vyftienman-seisoen beleef en met die louere weggestap in die Swartland-streek.
Die gasheer sal môre op dié momentum wil voortbou en ook goed vaar in hul mylpaal- sewestoernooi.
Die rugbyspanne wat sake gaan uitspook is: Belhar, Blue Stars, Busy Bees, Busy Bees B, Darling, Darling B, Darling C, Eersterivier, Hamlets, Hamlets B, Hamlets C, Langebaan, Langebaan B, Mamre, Mamre B, Saldanha, Saldanha B, St. Helena Bay, Strand, Velddrif, Young Peoples, Young Peoples B, Young Tigers en Young Tigers B.
Die toegang beloop R20 vir volwassenes, R10 vir skoliere en R10 vir motors.
Die klub het daarop gewys dat streng sekuriteitsmaatreëls sal geld.
*Geen drank mag die terrein ingebring nie. Daar sal wel biertuin beskikbaar wees, waar verkope sal plaasvind.