LatestSports

Saldanha, Darling buit 7’s se rugby-, netbaltitels

Die Darling Rugbyklub se 20ste sewestoernooi is die naweek beslis en is gekenmerk deur kookwaterspel op die rugbyveld asook in die netbal wat vanjaar vir die eerste keer deel van die toernooi uitgemaak het.
Die spanne het meegeding om totale prysgeld van R30 000 met Saldanha wat as rugbykampioene gekroon is terwyl Darling die netbaltoernooi gewen het.

Met hul rugbysege het Saldanha die wentjek van R12 000 losgespeel.
Die agt spanne wat tot die kwarteindronde van die hoofkompetisie deurgedring het, was Belhar, Darling, Eersterivier, Hamlets, Mamre, Saldanha, Strand en Velddrif.
Darling het met 14-12 teen Strand vasgeval en Saldanha het ‘n wegholoorwinning van 41-0 oor Eersterivier behaal. Daarna het Belhar vir Velddrif met 22-21 uitgeskakel terwyl Hamlets vir Mamre met 17-5 in die laaste kwarteindwedstryd geklop het.
Belhar het tot die eindronde deurgedring toe hy die Strand met 10-7 geklop het.

In die ander halfeindronde het Saldanha sy plek in die eindronde bespreek deur Hamlets met 17-14 te klop.
Saldanha het toe die titel gewen toe hy Belhar met 14-12 in die eindwedstryd geklop het.
Op die netbalbaan het Darling se netbalspan die wengeld van R3000 ingepalm.
Die ander pryswenners was:
Rugby:
Naaswenner: Belhar
Plaatwenner: Young Peoples B
Plaat-naaswenner: Busy Bees
Bowl-wenner: Young Peoples
Speler van die Toernooi: Doyi Khanyiso (Busy Bees)
Eindstryd Speler van die Wedstryd: Dinro Snyders (Saldanha)
Netbal:
Naaswenner: Malmesbury
Derde Plek: Fluid (Mitchell’s Plain)
Speler van die Toernooi: Michè Bonn (Fluid Mitchell’s Plain)

Leave a Reply

error: Content is protected !!