'n Kykie in die ParlementLatest

‘Isolasie ‘n toets vir meer as een vriendskap’

Swartlander en Lid van die Nasionale Parlement, asook die DA se skaduminister vir vervoer, koukussweep en hul kiesafdelingshoof vir Bergrivier, Chris Hunsinger, skryf:

Ons leef dalk nou ook in ‘n tyd waarna ons sal sê: “…& daarna was niks meer dieselfde nie”
… winkels en besighede is ingeperk, party rakke is taboe, goedere is afgesper, ry en reis is ontneem, militêre teenwoordigheid op straat, padblokkades tussen distrikte en provinsies, kwarantyninrigtings, isolasiekampe vir haweloses en dan natuurlik selfisolasie en afsondering; ook hongersnood en oproer…

Selfinperking is uitdagend
“Hoe lank nog?” word gevra, want ons begin dit voel.
Selfinperking is uitdagend – “shack” of paleis – om met mekaar oor die weg te kom in ‘n uitdaging. Maar die vriendskap van baie ander “huwelike” is ook op risiko. Een daarvan is die verhouding tussen staat en demokrasie.
Reeds in 1933 het Hilter in Duitsland die sogenaamde “Ermächtigungsgesetz” deurgedruk. ‘n Bemagtigingshandeling en wesenlike legstuk in Hitler se prentjie van diktatoriese heerskappy. Weg van die voormalige demokratiese bestel. Voormalige Oos-Duitsers vertel vandag nog van hoe hulle in rye gestaan het vir ‘n pynappel en hoe Oos-Berlynse kinders met ekstase gefotografeer was met hande vol piesangs – so onlangs soos 1989, want dit was onverkrygbaar.
Ingrype op die vryheid van mense,soos wat ons dit nou beleef, mag nie permanent word nie. Die Staat en Demokratiese waardes moet eenvoudig vriende bly.

Letterlik en figuurlik huis toe
Die aankondiging van die Rampbestuurwetgewing deur President Ramaphosa en die gepaardgaande regulasies het Parlement letterlik en figuurlik huis toe gestuur. Nie net die 400 van ons in die Nasionale Parlement nie, maar ook elkeen van die nege Provinsiale Wetgewers se lede, elke Munisipaliteit se Raadslede en daarmee bykans al die funksies en rolle.
‘n Ingrypende handeling en inperking op baie van ons demokratiese beginsels en regte. Meteens was oorsig weg en vervang met “command centers” en “joint operating command structures”, Uitvoerende Nasionale Ministers met ongekende mag wat ons toespreek in Militêre Uniforms, insidente van burgerlike mishandeling, nog strenger inperkings van ekonomiese aktiwiteite, verlengde isolasie, riller kwarantynervarings en rassistiese bystandskemas.

Almal gelyk
In ‘n stadium gedurende ons “lockdown” was die dodetal aan polisie- en weermagvergrype op burgerlikes méér as die dodetal aan die korona-virus. Diktatorskap en ‘n magstaat is iets wat ontwikkel en ontstaan vanuit ‘n proeflopie op klein skaal as daar nie oorsig is met wigte en teenwigte nie.
Parlement en rade moet so gou as moontlik weer funksioneer met skype of zoom – wat ook al, oorsig en grondwetlike beginsels moet nie vervreem word van Die Staat nie. Leiers moet rekenskap gee en verduidelik aan die publiek oor besluite. Redes vir maatreëls en regulasies moet inhoud hê en vrae moet gerig kan word.
Dit mag nooit wees dat individuele vryheid en menseregte, billikheid en regverdigheid, toegang tot Die Reg en vrye mark permanent ontneem word nie – dit is trouens inhoudelikhede van ‘n demokratiese samelewing waarin almal gelyk is en ons verteenwoordig word tot op die hoogste gesag – Die Parlement.
Ons word deur Polisie begelei uit Springbok in die Noord-Kaap tot by ‘n weermag-gesteunde kontrolepunt nadat ons 14 dae onder bewaking in ‘n kamp gewag het om te kyk vir ‘n loopneus en koors. Die snaaks en ligte luim is vinnig met realiteite vervang soos nuusberigte vertel het van ‘n ander wêreld – ‘n plek wat dalk kan verander, vir altyd.

Altyd vriende bly
In die karavaanpark op Springbok het ek ons aangename “Kampkommandant” Anton Gaybba, wat van Skotse afkoms, is ontmoet.
Hy vertel my van Die Geweerlope van Arkoep in die Kamieskroon gebied. ‘n Klompie Anglo-boere-oorlog voorlaaier-geweerlope wat regop in granietrots geanker is rondom ‘n poeletjie water naby ‘n natuurlike fontein. Afrikaners wat na die ABO in 1902 geweier het om hul gewere af te gee en hiermee ‘n betekenisvolle monument nagelaat het.
In die ry dink ek aan ‘n memo van Die Speaker: “Yet, in a time of deep crisis en uncertainty, the role of Parliament is more vital than ever. In a time when fundamental decisions about our safety en economy are being made, we need more parliamentary action,” en ek besef die Staat en Demokrasie moet altyd vriende bly.

*Hunsinger is ‘n onafhanklike rubriekskrywer en die inhoud van sy skrywes weerspieël nie noodwendig die siening en beleid van dié courant nie.

Leave a Reply

error: Content is protected !!