Covid en Onderwys 4 – ‘Druk veer in onderwysers se hoed’
dié courant het met Justus Schoonraad, hoof van die Hoërskool Swartland, gesels.
Hy sê hul het in die week voor die skole sou sluit, die jongste selfoonnommers van elke leerder en e-posadresse van elkeen gekry.
“Ons het aanvanklik voorberei en beplan vir die kort termyn – April.
Sedertdien het ons ook ‘n strategie vir die medium termyn (Mei, Junie en Julie) en lang termyn opgestel.
By ons skool het ons rekenaarspesialis, Brian de Beer, die basis geskep vir die manier waarop ons tans werk.
Die skool was al geregistreer op Microsoft 365 en elke kind is ook nou geregistreer op Microsoft Teams.
Elke kind kan die lesse nou deur Microsoft Teams kry.
Ons het ook ‘n stelsel wat al vir ‘n paar jaar, selfs voor ek hier gekom het, hardloop en dit is die D6-platform waar die werk onder hulpbronne gelaai kan word. Hierdie hulpbronne het die kommunikasie na die kinders soveel makliker gemaak.
Baie onderwysers was aanvanklik vreemd met Microsoft Teams.
Dit is interessant dat ons reeds vroeër in daardie rigting begin dink het, maar ons het nog nie die nodigheid daarvan gesien dat ons dit wel in plek moes stel nie.
Daar is nou ook ander programme soos Zoom.
Party onderwysers verkies Zoom want dit is ‘n makliker hulpbron om sekere vakke mee aan te bied soos lewenswetenskap, fisiese wetenskap en wiskunde.
Jy het jou hand op die een kant bv. met die skandeerders waar jy soos op ‘n witbord die werk kan verduidelik met die gesig van die onderwyser op die ander kant.
Al die onderwysers het in ‘n baie kort rukkie eksperte geword. Nie dat hulle alles nou verstaan nie, maar hulle is so dat hulle die verskillende platforms kan gebruik.
Party gebruik Whatsapp-videos met kort insetsels van hoe die proses hardloop van ‘n klas.
Wat interessant is, is dat elkeen van die onderwysers nogal redelik op datum gekom het met als.
Op die hoofdekongres in September verlede jaar was die tema die vierde industriële generasie.
Wat nogal interessant is, is dat dit so van toepassing geword het op nou.
Ons het met aandag geluister en was baie geïnteresseerd daarin, maar tog het die ouens gesê jy kan nie ‘n onderwyser in ‘n klaskamer vervang nie.
Almal het daarvan gehou en baie positief gereageer, maar ons het nie geweet binne ‘n jaar gaan dit so vinnig van toepassing gemaak moet word nie.
Ons val baie keer terug op wat ons daar geleer het wat nou van toepassing geword het.
Ons hele beplanningswêreld is so ‘n bietjie geskud.
Alles wat so lekker in ‘n groef elke jaar gehardloop word, moes nou uitgehaal word en jy is in ‘n wentelbaan wat jy nie ken nie.
Jy weet nie watter asteroïdes jy gaan tref nie.
Jy weet nie watter probleme jy gaan tref nie, want dit is alles nuut.
Dit is ‘n totaal nuwe veld.
Ek het nog altyd ‘n plan gehad om rêrig satellietklasse aan te bied oor ‘n verdere terrein waar ‘n mens nou gaan kyk dat ouens wat ver afgeleë is, basies kan inskakel by Hoërskool Swartland en dan die les kan volg wat ‘n onderwyser aanbied in ‘n klas. Hetsy deur watter funksie of program ookal. Ek dink ons is nou skielik soveel nader aan dit wat ons nie besef het ons eintlik in ‘n kwessie van ‘n maand of meer als baie vinnig op ‘n nuwe denkwyse geskoei het nie.
Die hele WKOD kan baie leer daaruit as ons nuwe projeksies en beplanning moet doen dat waar jy top-onderwysers het in ‘n klas, kan jy dit in ‘n ander skool aanbied waar daar dalk ‘n tekort aan kennis of ervaring is.
Hierdie Zoom-les in een klas kan oorskakel na ander skole met dieselfde taalgebruik.
So ons is eintlik nou gedwing om heeltemal anders te dink.
Die meeste van die onderwysers moet mens ‘n veer in die hoed druk en sê: Luister. Well Done!!! Julle het regtig uitstekend begin vaar met nuwe tegnologie en nuwe vaardighede wat julle ontwikkel.
Ek is eintlik verras deur die positiwiteit wat onderwysers het ten opsigte van hoe hulle die nuwe tegnologie omarm het en van toepassing gemaak het in ‘n totaal nuwe veld.
Party het net woordverwerkingsprogramme geken en dalk ‘n Excel-sigblad.
Dié wat ‘n bietjie verder gevorder het, het so ‘n bietjie Power Point gebruik.
Brian (de Beer) is baie op datum en het vir ons baie leiding gegee met wat is die beste tegnologie wat op ons skool van toepassing is.
Ek is werklik beïndruk met baie van die onderwysers se tegnologievaardighede wat hulle vinnig aangeleer het die afgelope paar weke wat ons nou in die nuwe fase is.
Of ons by al die kinders uitkom en of almal werk, is moeilik om te bepaal.
Ek skat 10 tot 15% het nie die werk ontvang nie.
Dit is werklik vir ons ‘n probleem.
Ons gaan wanneer die skole weer begin, die geleentheid gee vir kinders om in die rekenaarsentrum te kan gaan sit en die werk aflaai en hersiening doen in hul eie tyd.
Daar sal in die toekoms moet gekyk word na gratis data wanneer kinders op sekere lesse of platvorms inskakel.
Oor die terugkeer en heropeing van skole, sê Schoonraad:
Ons kan nie beplanning doen nie.
Dit is die slegste van als.
Geen bestuurspan kan beplanning doen, as daar ‘n paar dinge nie in plek is nie.
Hulle moet vir ons datums in die eerste plek gee, sodat ons ons hele jaar kan beplan.
Dan die tweede ding wat ons nodig het, is ons moet gaan kyk na ‘n proses van hoe die kurrikulum aangepas is.
En hoe ons dit gaan inpas in ons tyd wat vir ons gegee word.
So ons gaan moet gaan kyk hoe ons die skooldag anders moet inkleur.
Derdens moet hulle vir ons sê wat is die riglyne en die voorwaardes wanneer ‘n skool kan oopmaak.
Ek het al klaar die skool se protokol geskryf – van koshuise, busdiens regdeur tot die kind instap by die skool. Hulle moet ook eers die voorgeskrewe persoonlike beskermingsuitrusting vir ons gee.
Ek hou nogal van sulke nuwe goed wat heeltemal vreemde terrein is. Dit is lekker vir my. Ek weet baie ouens hou nie van verandering nie, maar nou ja. Dit is vir my ‘n nuwe veld.
Ek het so baie dinge nuut geleer.
Dit is vir my ‘n bietjie meer uitdagend, anders moes ek net admin gedoen het die hele tyd en ek is nie ‘n ou vir heeltyd dieselfde papiere rondskuif nie.
My groot krisis is, ek het ou personeel met baie van hulle wat ook hul eie skete het en weet ek nie hoe hulle dit gaan ondervang nie.
Jy kan nie net ‘n persoon in die plek stel van iemand anders nie.
Dit is net nie moontlik nie.
Wat gebeur met ‘n persoon wat dalk kanker onderlede gehad het en nou herstel het, maar dit is ‘n risikogeval of ‘n ou wat diabetes het?
Ek het ‘n redelike klomp wat blootgestel is.
Daar is daardie uitdagings ook.
En wat gebeur nou met ouers wat sê: ek gaan nie my kinders skool toe stuur nie, as gevolg van die risiko of ‘n onderwyser wat sê ek kan nie skool toe kom nie, want ek stel my eie lewe in gevaar as gevolg van onderliggende chroniese siekte?
Ons ondersoek al die opsies en sodra ons as bestuurspan kan begin beplan, sal ons kyk na al die opsies.
Dis ‘n lekker nuwe interessante veld. Ons sal moet baie koppe bymekaar sit, want ek dink nie een ou het al die oplossings nie. Dit is waar die belangrikheid inkom van ‘n bestuurspan wat redelik oop is vir denkprosesse en denkvermoë dat ons heeltemal nuut kan dink oor hoe ons nuwe strategieë gaan aanpak.
Dit gaan interessant wees.