Geskiedkundige opening van nuwe teater
Die Arts Town Riebeek Valley-beweging het gisteroggend hul splinternuwe opelugteater geopen om die begin van ‘n opwindende nuwe teater- en kunsseisoen in die vallei aan te kondig.
Organiseerder Mark Graham Wilson het gesê dit is sover sy kennis strek die eerste teater in die land wat ná die aanbreek van die Covid-grendeltyd kon open met optredes voor ‘n gehoor.
Hy wou nie veel meer oor die planne vir die Royal Arts Town-amfiteater verklap nie, maar dit is duidelik dat ‘n propvol program vir die komende somer beplan word met top-teaterproduksies.
Dit vorm deel van die Arts Town Riebeek Valley-beweging waarvan die beeldende kunste deur Klaus Piprek gekoördineer word.
Omdat daar streng by die inperkingsmaatreëls gehou word, moes mense gister weggewys word toe die afsnypunt van 50 mense bereik is.
Digters uit die vallei het hul werk voorgedra vir die gehoor in die amfiteater wat oor die wingerde en Kasteelberg uitkyk.
Die digters was Johanna Koopman, Mariana del Carmen, Karin Kearly en Donker Jonker en die programleier was Georick Veltman.
Ná die pouse was daar ‘n meer informele sessie waar enigeen uit die gehoor ook hul werk kon voordra. Dit het werke van Bas van Kampen, SP de Bruyn, Cole Green en Jay Gordon-Turner ingesluit.
Komende Sondag is daar weer digtersteater op die program met ‘n vrouetema vir Vrouedag.
Wilson sê hulle sal binnekort die teaterprogram vir die komende somerseisoen bekend maak.
“Baie dankie aan al die akteurs en regisseurs wat reeds aansoek gedoen het.
“Ons het baie meer aansoeke ontvang as wat ons kan akkommodeer en die moeilike taak om te selekteer, het begin.
“Dit is egter ‘n deurlopende projek en ons sal dit regkry om soveel moontlik werk aan te bied.”
Daar is ook planne vir ‘n binnenshuise lokaal en as die Covid-regulasies dit sal toelaat, sal daar aanstaande jaar ook ‘n winterseisoen wees.
Wilson sê die doel is om soveel moontlik akteurs die geleentheid te gee om weer voor ‘n gehoor op die verhoog te staan en inkomste te verdien.
*Nóg ‘n opwindende nuwe kunsprojek is die klipsirkels wat in die volgende paar weke deur plaaslike kunstenaars in samewerking met kunstenaar Emma Willemse en The Arteri gestalte sal kry. Onder die jong kunstenaars wat by dié projek betrokke is, is Erynne de Bruyn, Jon Wreal, Kayla Grové, Mariana del Carmen en Jay Gordon-Turner.
*Lees gerus een van Donker Jonker se gedigte wat hy voorgedra het, hier https://www.facebook.com/111173917087463/photos/a.115273323344189/177751580429696/?type=3