Grane lyk nou goed – Welman
Die grane in die streek lyk goed. Só het Neels Welman van Weskaap Graanprodusente Beperk aan dié courant gesê. “Opvolgreën sal nou welkom wees en die boere sien uit na die voorspelde reën van die naweek,” het hy bygevoeg.
Oor die geel kolle wat plek-plek op die lande sigbaar is weens heelwat reën vroeër, sê Welman dit is normaal om te kry in ‘n jaar met reënval soos vanjaar.
Hy sê in hierdie stadium lyk dit of die oestyd waarskynlik op die gewone tyd sal wees. “Maar onthou die natuur het maar sy tyd.”
Volgens die nasionale oesskattingskomitee se jongste voorlopige beramings is die aangeplante koring in Suid-Afrika in oppervlakte vanjaar 4,26% minder as dié van verlede jaar.
Die voorlopige skatting van die oppervlakte onder koring beloop 517 000 ha. Dit is 23 000 ha minder as die 540 000 ha wat verlede seisoen aangeplant is.
In die Wes-Kaap, sê die skatting, is daar tans 326 000 ha onder koring – sowat 1000 ha meer as die 325 000 van 2019.
Die skattings word gebaseer op inligting van die Direktoraat: Statistiek en Ekonomiese Analise van die Departement van Landbou, Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling.
Dié syfers beraam dat die oppervlakte vir die Vrystaat tans 105 000 ha is. Dit is 23 000 ha (bykans 18%) minder is as die 128 000 ha van verlede3 jaar. Vir die Noord-Kaap is die beraming 35 500 ha (2 000 ha minder is as die vorige seisoen).
Wat ander wintergewasse betref is die voorlopige skatting soos volg:
Moutgars – 132 760 ha (0,61% of 800 ha meer as die 131960 ha van 2019)
Kanola – 71 120 ha (3,89% of 2 880 ha minder as die 74000 ha van 2019)
Hawer – 23 000 ha (9,5% of 2 000ha meer as die 21 000 ha van 2019)
Die totale oeste in Suid-Afrika vir 2019 was:
1 535 000 ton koring (gemiddeld 2,84 ton/ha);
345 000 ton moutgars (gemiddeld 2,61 ton/ha);
95 000 ton kanola (gemiddeld 1,28 ton/ha) en
16 500 hawermout.
Die Wes-Kaap het verlede jaar 650 000 ton koring geoes met ‘n gemiddelde opbrengs van 2 ton per ha.