Darling blom weer dié naweek
Die 2022 Darling Veldblommeskou vind dié naweek (16 tot 18 September) by die Darling-museum in Pastoriestraat plaas.

Die skou is vanjaar 105 jaar oud en besoekers kan, soos gebruiklik, uitsien na ‘n uitstekende veldblomuitstalling.
Darling is ‘n veldblommeparadys en daar is ook ‘n paar reservate waar besoekers die blomme kan besigtig. Dit sluit die gewilde Tienie Versfeld-reservaat op die R315 tussen Darling en Yzerfontein, Die Harold Versfeld-reservaat op die plaas Contreberg langs die R307 na Mamre, die Waylands-reservaat, die Darling Groenkloof-reservaat agter die Darling-begraafplaas langs die R315, die Oudepost-reservaat by die Duckitt-kwekery langs die R307 en die Darling Renosterveld-reservaat langs die dorp in.

By die veldblommeskou sal daar weer inheemse plante en fynbosprodukte te koop aangebied word.
Die Darling Veldblomvereniging bestaan al vir meer as ʼn eeu, ná Frederick Duckitt van Waylands en Suzanne Malan van “Die Pastorie” besluit het dat die wonderlike erfenis van veldblomme met ander gedeel móét word. Die ontstaan van die eerste veldblomvereniging is gevolg deur die eerste skou wat in 1917 gehou is.
Naas die veldblomme is daar oor die naweek ook ‘n Arts Darling-kunsuitstalling by Marmalade Cat, ’n mark by Darling Brew en die jaarlikse Orgideekermis by die Duckitt Orchid Nursery net buite Darling.

Die toegangsfooi vir die veldblommeskou beloop R90 en sluit toegang tot die Darling Museum in.
Daar is ‘n spesiale toegangsfooi van R60 (slegs Vrydag 16 September) vir pensioentrekkers.
Toegang vir kinders onder 12 is gratis.

Toegangskaartjies is op die net beskikbaar by https://www.quicket.co.za/events/141201-2022-darling-wildflower-show-plant-fair/#/