Agri/BusinessLatest

Rekordpryse by skouveiling behaal

Die Swartlandskou se jaarlikse karkaskompetisie was vanjaar weer ‘n groot sukses met die kampioenlamkarkas van Schoongezicht Boerdery wat vir R15 000 op die karkasveiling verkoop is. In die slagosafdeling is die wenkarkas vir R44 000 verkoop.

Dié kampioenlamkarkas was nie net die beste op Swartlandskou nie, maar het ook die beste punt uit alle karkaskompetisies tot dusver vanjaar in die Wes-Kaap behaal.
Die SA Vleismerino-Dormerkruiskarkas van Nelius van Santen het ‘n totaal van 94,58 punte behaal. Die reserwekampioenkarkas is ook deur Schoongezicht Boerdery ingeskryf gevolg deur die De Villiersbroers in die derde plek met ‘n Merino-Dormerkruiskarkas.

Jannie Dürr het die veiling behartig en die kampioenkarkas is deur Wespin-abattoir gekoop vir R15 000 (R691,24/kg). Dit is ook die hoogste prys tot dusver vanjaar op karkasveilings. Die prys wat vroeër vanjaar op die Royalskou in Pietermaritzburg vir die kampioenkarkas (dorper) betaal is, was R360/kg.
In die Swartlandskou se afdeling vir groepkarkasse het Johan en Ben Mostert (Oranjeskraal) die beste punt behaal vir die kampioengroep met hul SA Vleismerino/Dormerkruise.

Die kampioenlamkarkas is deur WespinAbattoir van Moorreesburg gekoop vir ‘n bedrag van R15 000. Van links staan Louwrens van Wyk van Wespin Abattoir, Nelius van Santen van Schoongezicht-boerdery (produsent/verkoper) en Erika Duncan en Marlize Kotze, albei van Wespin Abattoir. Voor sit die afslaer Jannie Dürr.

Schoongezicht Boerdery spog met die reserwekampioengroep asook die derde plek.
In die kompetisie vir lammers op die hoef het die Mostertbroers ook die kampioengroep ingeskryf met Schoongezicht Boerdery wat met die reserwekampioengroep spog.

Die Mostertbroers, Ben en Johan, van Oranjeskraal staan by hulle kampioengroepkarkasse. Die produsente skryf ‘n groep van vier lammers in en die beste drie kom dan in aanmerking vir die kompetisie. Saam met hulle is John Dürr (links) en afslaer Jannie Dürr (regs).


In die afdeling vir enkellammers op die hoef het die Mostertbroers ook met die louere weggestap en ook die derde plek behaal. Van Santen se Schoongezicht Boerdery het hier ook die reserwekampioenlam ingeskryf.

By hul kampioenlamkarkas staan Nelius, Jurian en Pierre van Santen van Schoongezicht-boerdery by Hermon.
Die De Villiersbroers, Jan en Hennie, by hul top-lamkarkas wat die derde plek in die enkelkarkaskompetisie behaal het. Die lam was ‘n Merino-Dormerkruis.

In die slagoskompetisie het Fairfield Vleis met die louere weggestap. Osse van verskillende rasse het meegeding. Die wenner was ‘n Beefmaster (50% Brahman, 25% Hereford en 25% Korthoring) van Niesar Ahmed Sonday en Hassan Sonday (Fairfield).
In die tweede plek was ‘n Bonsmara van Vyekraal by Darling met Lodewyk Lesch van Nooiensdam se Simmentaler in die 3de plek.
Die beeste is by Tomis Abattoir geslag en deur SAMIC (South African Meat Inspection Company) beoordeel. Punte is toegeken vir vetdekking, bouvorm en uitslagpersentasie.

Die drie wenkarkasse is op die veiling by die skou deur Carl Malherbe van BKB opgeveil.
Malherbe het die bod vir die top-prys (R25 000) vir die een sy van die wenkarkas op Heidi de Villiers van De Clapmuts-plaas naby Elsenburg toegelaan. Die ander sy is vir R19 000 verkoop.
Die wenkarkas het 246kg geweeg.

Die een sy van die kampioenkarkas van Fairfield Vleis se Niesar Ahmed Sonday (links agter) en Hassan Sonday (agter naasregs) is deur Heidi du Plessis (naaslinks) van De Clapmuts-plaas gekoop. By hulle is Charlene Fullard (regs) van Xtreme Trading en afslaer Carl Malherbe (voor).

Malherbe het die deelnemers en borge BKB, Tomis en Extreme Trading (Charlene Fullard) bedank vir hul bydrae om van die geleentheid ‘n sukses te maak.

Leave a Reply

error: Content is protected !!