Projektors rol weer by Solo Studios
Ná die oorweldigende goeie ontvangs van die kunsfilms Sculpting the earth en Displaced verlede jaar, is daar weer ‘n wêreldfilmpremière op vanjaar se Solo Studios-kunsnaweek van 18 tot 20 Augustus in die Riebeekvallei.
Vanjaar het die organiseerders plaaslike kunstenaars genooi om kortfilms te maak met ‘n deurlopende tema – monomanie.
Klaus Piprek vertel hulle het al talle navrae ontvang om ‘n klein filmfees in te sluit op die program.
Met die opdrag: Monomania (beskryf as die enkele obsessie/manie oor ‘n bepaalde onderwerp) het sewe totaal uiteenlopende onderwerpe onder loep gekom en binne dié tema gestalte gekry.
Die sewe kortfilms is eklekties saamgevat en word agtereenvolgens as een film vertoon met die première op Saterdag 19 Augustus.
Die sewe films is gemaak deur Riaan van Zyl, Tamzin Lovell, Leán Bakker, The House of the Second Shadow, Cristina Kirsten, Donker Jonker en John Vowles.
.. Storievertelling en rolprentmaak is steeds ‘n groot deel van ons moderne lewens. In Eulogy to Motion beeld kunstenaar Riaan van Zyl uit hoe ons – in die donker – ons opinies en sienings vorm, en dan hierdie idees en konsepte in die lig ryg en projekteer.
.. Kunsfundi Tamzin Lovell vertel ‘n verhaal van kuns en tegnologie van die verlede tot in die toekoms. Gedoen deur ‘n kombinasie van poësie en KI (kunsmatige intelligensie)-gegenereerde kunsvideo, in Pixels and Poetry – A Journey into Art Technology.
.. Vir haar 53ste verjaardag het Leán Bakker haar vriende genooi om ‘n werk saam met haar te doen. Die sagte strelings van 26 hande aktiveer die vloei van Kundalini, lewenskrag-energie in haar liggaam. Sensation gaan oor die beweging van lewenskrag.
.. TONG: Die Gekleurde Vrou is ’n samewerkende produksie deur The House of the Second Shadow, en ondersoek Vrouwees, seksualiteit en armoede van die bruin vrou in ‘n swart en wit kaleidoskoop .
.. In Plot’s Possession onthul Cristina Kirstein die ligter dieptes van obsessie; waar ons stories besit, en stories ons besit.
.. In My Beautiful Brein bied die vertelling van digter Donker Jonker ‘n strak, ontstellende siening van versteuring van die gees.
.. Die bekroonde onderwaterfotograaf John Vowles beoefen sy kuns onder die oppervlak. In Subaqueous nooi Vowles die kyker in vir ‘n blik op sy onderdompelde wêreld.
Daar is vier vertonings op die naweek se program – drie vir Saterdag en een vir Sondag.
Kaartjies vir Monomania is beskikbaar by https://solostudios.co.za/
*Naas dié saamgestelde Monomania-film, kan besoekers ook uitsien na multimedia/filmvertonings by die ateljees van kunstenaars Emma Willemse en Riaan van Zyl.
.. Willemse span saam met New Music-komponis Michael Blake vir hul multimediawerk Richmond Loop. Dit is die produk van 14 dae se verblyf op dié Karoodorp. Blake het die musiek vir die multimedia-aanbieding gekomponeer uit klankopnames wat tydens hul verblyf op Richmond opgeneem is. Willemse het die visuele kuns gekonstrueer uit foto’s en videos wat sy tydens staptogte daar vasgevang het. Die fokus van die beeldmateriaal en kuns val op die dikwels misgekykte besonderhede wat vertel van die mense en hul lewens sonder dat mense self op die beeldmateriaal ingesluit is. Richmond Loop duur 17 minute.
.. Film en die bewegende filmraampies is ‘n kenmerkende draad deur Riaan van Zyl se kunswerk.
Op Saterdagaand 19 Augustus bied hy ‘n Old Vintage Film-aand in sy studio aan.
Marco Pellis (Vintage Film-spesialis) sal daar wees om Van Zyl te help om ‘n nostalgiese ou fliekhuis met ‘n wonderlike projektor, wyn en springmielies te skep.
Vanaf 18:30 sal daar vier 30-minute-films op die silwerdoek vertoon word.
Toegang tot die aand is by die Solo Studios-kaartjies ingesluit.