Sports

Weskus se netbalspan oorgehaal vir SA’s

Die Weskus Netbalfederasie se A-span is slaggereed om van dié naweek af in Rustenburg hul slag te wys in die Nasionale Kampioenskappe wat van 1 tot 7 Oktober beslis word.
Die span onder afrigting van Nadene Sherman van Malmesbury sluit spelers van die Swartland, Bergrivier en Saldanhabaai in.

Hulle is Beulen Lazarus van Hopefield (senter en kaptein), Mekayla Barnard van Malmesbury (verdediger en onderkaptein), Herlouise Skippers van Moorreesburg (hulpdoel), Mané Visser van Darling (hulpdoel), Amy le Fleur van Malmesbury (hulpdoel), Nicole Jacobs van Vredenburg (aanvallende vleuel), Danél Visser van Darling (verdedigende vleuel), Micke Smit van Malmesbury (hulpdoel-verdediger), Semelian Lombard van Vredenburg (aanvallende vleuel), Amber Cooper van Piketberg (doel), Sydney Crow van Moorreesburg (hulpdoel-verdediger). Suzette Visser van Darling is die spanbestuurder en Hanchen Mouton van Langebaan is die span se tegniese beampte.

Die SA Kampioenskappe vind gewoonlik in Augustus plaas om saam te val met Vrouemaand en Nasionale Vrouedag, maar moes vanjaar uitgestel word weens die Netbal Wêreldbeker in Augustus in Kaapstad.
Daar word vanjaar tot 1800 spelers op Rustenburg verwag met die o.21-kampioenskappe wat saam met die senior toernooi gespeel word.
Netbal Suid-Afrika se visepresident en toernooidirekteur, Mami Diale, sê hulle besef dit kan warm wees omdat die toernooi so laat plaasvind, “maar ons het gebeurlikheidsplanne om dit te hanteer.

“Ons sal ‘n groot markiestent oprig wat spelers ‘n rusarea in die skadu sal bied, en ons sal die program só reël om te verhoed dat hulle in die middel van die dag speel.”
Diale sê daar was ‘n toename in die aantal spanne wat vir die toernooi inskryf die afgelope paar jaar.
“Dit kan die gevolg wees van verhoogde belangstelling in netbal as gevolg van die Netbal Wêreldbeker. Ek is verheug dat 50 spanne vir die o.21-toernooi ingeskryf het en 59 vir die senior toernooi. Ons glo dit is ’n teken dat daar ’n groeiende belangstelling in netbal in afgeleë gebiede is.”

Leave a Reply

error: Content is protected !!