Veldtogte vir SM Wyk 7 op dreef
Die onderskeie politieke partye is kliphard aan die werk vir die komende tussenverkiesing in Wyk 7 van die Swartland Munisipaliteit wat op 8 November gehou word.
Die pos van wyksraadslid is vakant gelaat toe raadsheer Basil Stanley uit die DA en só ook sy posisie as raadslid bedank het.
Die EFF en ANC het hul kandidate bekendgemaak nadat dié courant vroeër oor van die ander kandidate berig het.
Die ANC se kandidaat is Thembalethu Nongogo (25) terwyl Miriam Hugo (46) die wyk vir die EFF sal probeer inpalm.
Die ander kandidate oor wie vroeër berig (Eerste skote klap vir Wyk 7) is, is Allan Williams (DA), Rodney Esau (PA) en Amber Booysen (VF+).
Die wyk sluit Kalbaskraal, Abbotsdale en ‘n gedeelte van Malmesbury in.
Hugo, ‘n boorling van Victoria-Wes, sê sy woon op Abbotsdale en is ‘n gemeenskapswerker. “Ek is maar gewoond om elke uur van die dag of nag op te staan en probleme op te los. Ek sal getrou bly aan my gemeenskap. Soos voor die tyd van die tussenverkiesing.
“My liefde vir mense gaan ver verby politiek. Ek het baklei om verandering in my tuisplekkie te bring en onder andere gehelp om werk te skep vir 19 werklose mense by ‘n Goedgedacht-program. Staan ook elke oggend op om ons kinders in die gemeenskap veilig te hou by die busse en weer in die middag. Omgee vir medemense is in my bloed. En ek is ook al vir ses jaar in die buurtwag.
Ek sal nooit moeg raak vir omgee nie.”
Nongogo sê hy woon op Kalbaskraal en het nie tans ‘n beroep nie.
Gepols oor wat hy sal doen as hy die nuwe raadslid sou word, antwoord Nongogo:
“What I will offer to Ward 7 voters: I will try by all means to make sure that their needs are met.
Make sure that Ward 7 change for the better.”
Hy vertel hy is oorspronklik van Sterkspruit in die Oos-Kaap maar het hier in Kalbaskraal grootgeword.