Wesbank wen maklik in Top12; Darling val vas
Die eerstespan van Wesbank het Saterdag in die Boland se Sanlam Top12 rugbykompetisie die besoekers van Delicious gemaklik met 53-19 geklop.
Die tuisspan het hul rekening in die vierde minuut geopen met ‘n drie deur Melvin Laserus.
Daarna het regtervleuel Matthew van der Westhuizen naby die hoekvlag gaan druk om sy span met 10-0 te laat voorloop.
Delicious het geantwoord met ‘n verdoelde drie, voor Wesbank se kaptein Dashton Wellman, die skrumskakel Juwell Samuels asook Keanan Solomons elkeen agter die doellyn gaan kuier het.
Die rustydtelling was 29-7 in die tuisspan se guns.
Wesbank het die voorsprong twee minute ná rustyd verder vergroot toe skeidsregter Donovan Deklerk slot Keagan Kortje se drie ná ‘n skittende beweging toegeken het. Vyf minute later het Keanan Solomons, wat ‘n baie goeie wedstryd beleef het, weer gedruk voor die besoekers met hul tweede drie kon slaag.
Van der Westhuizen het daarna langs die kantlyn af genael vir sy tweede drie voor buitesenter Gavern Skippers ook vir Wesbank agter die pale gaan kuier het.
Delicious, wat nog nie ‘n wedstryd in die kompetisie kon wen nie, was laat in die wedstryd, ná ‘n paar fases van spel, suksesvol met ‘n troosdrie om die eindtelling op 53-19 te bring.
Wesbank reis Saterdag na Worcester om die span van Young Hamiltons die stryd aan te sê.
Die Malmesburyspan lê tans met 11 ligapunte algeheel in die vierde plek in die kompetisie ná Safcol United (14), Robertson (14) en Roses United (12).
Die Swartland se streekkampioen, Darling, het op hul beurt Saterdag in sterk windtoestande die besoekende span van Robertson die stryd aangesê.
Die melkboere het in die eerste helfte teen die wind gespeel.
Skeidsregter Lee Beukes het vroeg in die wedstryd sy stem dik gemaak om dissipline te handhaaf deur in die eerste minute geel kaarte te wys aan ‘n speler van elke span.
Robertson het die eerste punte aangeteken met ‘n drie onder die pale.
Die besoekers, met die wind in hul blaaie, het ‘n strafdoel behaal en toe van diep in hul eie gebied nog ‘n drie onder die pale gaan druk om die voorsprong tot 17-0 te rek.
Beukes het later weer een van die besoekers se manne “koelkas” toe gestuur voor hy ‘n ander speler van Robertson, Lindsay Eksteen, daarna ondersteun het toe hy ‘n mediese toeval gehad het. Eksteen is na die Tygerberg-Hospitaal geneem en intussen gelukkig ontslaan.
Darling het ná die lang onderbreking ‘n skrum diep in die besoekers se kwartgebied gebruik as basis vir ‘n goeie aanval wat deur slot Jedwin Fortuin afgerond is met ‘n drie agter die pale. Kaptein Earl Lewis het verdoel om die gaping te laat krimp na 20-7.
Dit was ook die rustydtelling.
Darling het die tweede helfte sterk begin en Gideon Andrews het die doellyn oorgesteek met Lewis wat weer verdoel het om hul agterstand na 20-14 te laat krimp.
Die Melkboere was op die voorvoet en Hubert Cleophas het ná ‘n goeie beweging in die hoekie oorgeduik. Lewis was weer suksesvol met die moeilike doelskop om sy span die eerste keer die voortou te laat neem met 21-20.
‘n Strafdoel aan elke kant later was die telling op 24-23.
Robertson het aan die einde van die derde kwart teruggeslaan met ‘n verdoelde drie en weer die voortou geneem. Die eindtelling was 30-24 vir die besoekers.
Die Melkboere lê ná die derde ronde van die kompetisie met agt ligapunte algeheel in die 9de posisie op die punteleer.
Darling kom die komende naweek op Vanrhynsdorp te staan teen die tuisspan Eagles. Laasgenoemde kon tot dusver nog nie ‘n wedstryd wen nie.