Wêreldkampioen praat oor Poets’ Rally
Die tyd vir die heel eerste Riebeek Valley Poet’s Rally van 1 tot 3 Maart kom vinnig nader. Een van die besoekende sterre van die naweek is die bekroonde Xabiso Vili, wat twee jaar gelede in Europa die titel as die wêreldkampioen Slam Poet verower het.
dié courant het met hom gesels.
Slam poësie is ‘n kompetisie waar digters gesproke woordpoësie voor ‘n lewendige gehoor en ‘n paneel beoordelaars uitvoer en dramatiseer.
Dié bekroonde digter, skrywer en sosiale aktivis, verduidelik dat die digkuns lewe kry wanneer dit op die planke kom.
Dit gaan nie vir hom oor die kompetisie nie, verduidelik Vili, wat die titel gewen het met sy uitvoering van sy gedig Forget How to Die. Hy het teen slammers van 40 ander lande gekompeteer.
“Kompetisie maak my net opgewonde omdat dit aan mense die geleentheid gee om betrokke te raak en oor hulself te leer en ‘n ruimte te bied waar hulle hulself kan ontdek. Jy moet in so ‘n ruimte wees om jouself te ontdek in ‘n scenario wat jy nooit eers geweet het moontlik is nie
“Slam poësie het ook aan my die geleentheid gebied om myself te ontdek.”
Oor sy digkuns en optredes sê Vili dit gaan oor drome. “Ek glo drome sal jou altyd herinner aan wie jy bedoel is om te wees.
“Ek wil deur poësie die mense weer herinner om te droom en hoe om te droom. En as hulle onthou
hoe om te droom, sal hulle leer om hulself te wees.”
Dié boorling van die Oos-Kaap vertel hy het as ‘n klein seuntjie beeste opgepas. Dit het ‘n groot invloed op hom gehad.
“Dit het my regtig opgewonde gemaak oor die lewe, want ek het daar na die beeste gekyk en geluister en dit sou my van hulle, die heelal en die sterre leer.”
Hy wou nie saans uit die veld terugkeer nie. Daar was hy gelukkig. Later jare was hy op skool onder ander in Frankryk en ook in Kaapstad.
Vili sê hy was baie jonk toe hy begin dig het. “Ek het nie geweet hoe om my self uit te druk nie, maar poësie het my daardie geleentheid gebied om myself uit te druk en te ontdek wie ek is.”
Sy ouers het nie geglo ‘n mens kan ‘n lewe uit die kunste maak nie.
“My pa het gesê hy is ‘n elektriese ingenieur en daarom het hy nie geglo dat enigiemand ‘n loopbaan uit woorde en poësie kan maak nie. Ek moes dit bewys. Ek is uit die huis geskop omdat ek ’n kunstenaar was. Maar nou hou hulle van die werk wat ek doen en hulle ondersteun my voluit.”
Onder die toekennings wat hy al ontvang het. tel die 2015 Tshwane Speak Out Loud-kampioen, 2019 Digital Lab Africa Web Creation-toekenning, 2022 Future Africa-toekenning, 2022 New Generations-digter by die Poetry Africa-fees en 2022 Wêreld Slam Poësie-kampioen.
Hy het ook reeds ‘n album, roman, twee digbundels, Eating my Skin en Laughing in my Father’s Voice gepubliseer en sy eenmanvertoning Black Boi Me was ook baie gewild. Sy werk is ook al in ander bundels opgeneem.
Vir hom bied poësiebyeenkomste soos die Riebeek Valley Poets’ Rally die geleentheid aan digters om hulself nie net aan hul bestaansreg en rol te herinner nie, maar ook hul invloed te besef om by te dra om die magte in ons samelewing te beveg wat nie behoort te bestaan nie.
Vili se deelname aan Riebeek Valley Poets’ Rally sal nie sy eerste besoek aan die vallei wees nie.
‘n Paar jaar gelede het hy saam met ander digters ‘n werkwinkelnaweek hier aangebied en ook by die Royal Arts Town-amfiteater opgetree.
“Daardie naweek was so ‘n ongelooflike ding. Die mense daar het stories wat in hulle opborrel. Ek het myself so bevoorreg geag om daar te kon wees om te sien hoe daardie stories gestalte kry.”
En oor Riebeek Valley Poets’ Rally: “Ek dink die een ding waarna ons kan uitsien, is hoe die talent van die Riebeekvallei werklik ’n spieël gaan word wat vir ons gaan wys wat ons van daardie kant van die wêreld gemis het. Dit is waaroor ek opgewonde is.”
Hy praat oor invloed, apartheid en gedigte soos In Detention deur Chris Van Wyk.
“Dit is een van die beste gedigte wat ek nog gelees en gehoor het. Poësie bestaan uit die verlede, die hede en die toekoms.”
Hy het ná skool in sy studies gefokus op die toegepaste teaters en hoe mens teater kan aanwend in genesing, opvoeding en om deur trauma te werk.
Ná talle optredes in die buiteland (Hy was verlede jaar “in totaal slegs drie maande in Suid-Afrika.”), sê Vili (32), bly Afrika sy gunsteling-plek. Maar daar is nog ‘n paar hoogtepunte soos sy besoek aan Italië.
Aan opkomende en aspirant-digters en kunstenaars, sê Vili: “Wees jouself. Wees wie jy is en wil wees. Vind jou eie stem. As iemand ‘n kunstenaar wil wees, al glo hul ouers nie in hulle nie, volhard. En as hulle ‘n kunstenaar wil word, ek sal hulle help – ‘n manier vind om een te word. Ek is hier – gereed om te luister. Gereed om te help.”
*Die Riebeek Valley Poets’ Rally word moontlik gemaak deur die Wes-Kaapse regering deur die Stand-stigting.