Entertainment

Verwerkings gee kleur aan Dag Vol Woorde

‘n Dag (prop)Vol Woorde.
Hoe dan anders as jy in die hartjie van die Swartland twee splinternuwe Afrikaanse digbundels van deurwinterde woordmakers bekendstel met musiek- en verhoogverwerking en dit kombineer met werke van en gesprekke met ander digters en poësiekenners saam met die werk van nóg plaaslike bekroonde digters.
Die Riebeekvallei het ‘n skatkis van woordkunstenaars met talle ander wat ook gereeld hier kom kuier waarvan sommige nuwe inwoners gaan word.

By Hoofstraat Conceptual op Riebeek-Kasteel het Rudolph Willemse en sy vrou, Emma, Saterdag die geleentheid aangebied waar sy derde bundel, swartland, saam met dié van Andries de Beer AALMOES vir die bootman bekendgestel is.
Die Willemses het hulle 13 jaar gelede in die Swartland gevestig.
Die derde bundel uit dié afgetrede regsman se pen neem jou op reis deur die (veranderende) Swartland en lei ook die leser verder na ander dele van die land en uiteindelik weer na die self.
Hy verduidelik dat swartland simbolies is van die donker land en die donker wêreld daar buite, maar ook die veranderende self “is maar ‘n donker plek”.

Andries de Beer woon in Durbanville en gee klas aan die Kaapse Skiereiland Universiteit van Tegnologie op Wellington. Hy het al onder verskeie skuilname geskryf, insluitende Die Markies van Karrebas en Abjater Ronkedoor. Op die verhoog tree hy op as Andries van Pretoria.
Met praatverse, wat strek van Bellville se noordelike voorstede tot in die land se verre noorde, vlek hy die Afrikaanse “middelklastoestand” oop en bring hulde aan sy voorgangers wat ook hard teen die prikkels geskop het.

Kobus Moolman, bekroonde digter en professor in kreatiewe skryfwerk aan die Universiteit van die Wes-Kaap, is ‘n inwoner van Riebeekvallei. Hy het van sy werke voorgelees.
Die gaste kon ook na Donker Jonker, Caren Kearley en Louis Janse van Vuuren luister.
Daniel Hugo, digter, vertaler, samesteller, redakteur en radioman, was in gesprek met Jan Swanepoel oor sy onlangse bundel die belewenisse van ‘n latinis.
Beide nuwe digbundels wat bekendgestel is asook dié van Swanepoel het by Turksvy Publikasies van Marlene Malan verskyn.

Marcel van Heerden het saam met Dave Wickham en Warrick Swinney Willemse se nuwe werk op die planke gebring in ‘n musiek- en verhoogproduksie om die Dag Vol Woorde af te sluit.
Willemse het ook verlede week ‘n nuwe album Triptiek uitgereik waar Van Heerden ‘n keur van sy verse voorlees.

Leave a Reply

error: Content is protected !!