Cove se sprokiesverhaal duur voort
deur Stewart Booyse
Daar is net geen einde aan die sprokiesverhaal van die nuweling Steenberg’s Cove in die Weskusafdeling van die Boland Grootuitdaagkompetisie nie. Hulle het die naweek teen die verwagting op hul eie bodem die Rhinos van Piketberg met 25-12 geklop.
Ná ‘n goeie terugvegpoging teen Vredenburg vroeër vandeesmaand waarin die Cove wel die knie moes buig, kon hulle Saterdag opmaak met ‘n oorwinning oor die besoekers van Piketberg.

Die Cove het die Rhinos vroeg reeds vir 10 minute in hul eie kwartgebied vasgepen met ‘n sterk wind aan hulle kant. Hulle het die een aanval na die ander geloods, sonder sukses aanvanklik, maar kon in die 12de minuut ná ‘n mislukte strafskoppoging vroeër, die bal deur die pale jaag. Die span van St Helenabaai het die wind in die eerste helfte baie goed gebruik.
Rhinos het vir ‘n tydperk weer goeie rugby gespeel deur die voorspelers van die Cove in te trek vir ‘n kans om hul agterlyn weg te stuur. Dit het byna tot ‘n drie gelei.
Nadat die losskakel van Piketberg die bal teen ‘n sterk weskuswind die lug ingejaag het, kon Cheswin Snyders van die tuisspan in die regterkantse hoek oordraf vir ‘n verspotmaklike drie. Dit het die voorsprong vergroot na 8-0. Die Cove het onmiddelik weer toegeslaan om Aceilo Magerman ook oor die doellyn te stuur vir hul tweede drie. Met die telling op 13-0 het dit gelyk of die besoekers effe raadop was met sommige wat oënskynlik doelloos begin beweeg het.

En nog was dit het einde niet. Die tuisspan gaan kuier toe weer agter die Rhino-doellyn met ‘n tweede drie deur Cheswin Snyders om Piketberg bykans heeltemal uit die prentjie te haal.
Die onvermydelike “catch-up”-rugby in die tweede helfte was weer Piketberg se voorland. Daar was vir Rhinos wel goeie periodes in die tweede helfte, maar afronding was eintlik ook hulle teenstaander.
Sashin Dirks, een van Rhinos se uithalerskrumskakels, het in een van die ligpunte die opponente geflous deur ‘n fopaangee na links te maak om onder die pale te gaan druk en weer hoop aan sy spanmaats te bring.
Die geelkaart vir die Cove het die voorste driedrukker van Rhinos, Christophai Booise, daarna toegelaat om ‘n skoppie deur te stuur vir Cheslinne Monk om met die grootste gemak in die doelgebied op die bal te val om die telling te laat rol na 20-12 in die guns van Steenberg’s Cove.
Hierna het ‘n fase van saai rugby gevolg voor Cheswin Snyders, myns insiens die Speler van die Wedstryd vir die Cove, ontwaak en oorgeduik vir sy derde drie.
Vir Piketberg is dit sekerlik nou terug na die tekenbord om te sorg dat wat gered kan word, nog gered word sodat hulle aan die einde van die kompetisie wel kan sê soos Paulus: “I have fought the good fight, I have finished the race, I have kept the faith.”