Kragdag in die Swartland: kenners oor oplossings
Persverklaring – Sakeliga KragDag Wes-Kaap 2024
Kopskuifateljee: Kenners stem saam – daar ís alternatiewe
Terwyl die 2024 staatsbegroting dui op toenemende vernietiging – van sleg na slegter – in die komende vyf jaar, aldus ekonoom Dawie Roodt, laat die sprekers in die Kopskuifateljee by vanjaar se Sakeliga KragDag net buite Malmesbury hulle nie vertel dat daar níé alternatiewe vir veiligheidsprobleme, uitdagings rondom Swart Ekonomiese Bemagtiging (SEB), energieprobleme en staatsverval in die platteland en onderwys is nie. Inteendeel, elke spreker hét alternatiewe om te deel.

Veiligheid
Een van die staat se kernverantwoordelikhede is om Suid-Afrikaners se veiligheid te verseker. Staatsverval het op alle vlakke ‘n invloed op ons lewe – dit raak ons beursies, dit raak ons besighede en ons beroepe, maar hoe gemaak wanneer dit ons en ons gesinne se lewens bedreig? Ons leef in ‘n misdaadbesmette staat. Daar sal binne die volgende 12 maande waarskynlik 31 000 mense in Suid-Afrika vermoor word. Wanneer die staat misluk en ons lewens daarvan afhang: Wat is die alternatief? Veiligheidsaktivis en direkteur van Firearms Guardian Ian Cameron lei ‘n paneelgesprek hieroor op Saterdag, 23 Maart 2024 om 10:25.
Intussen het die omvattendste samewerking tussen landbouorganisasies in Suid-Afrika laat verlede jaar ‘n werklikheid geword op die gebied van plaasveiligheid. Nuwe tegnologie en die integrasie van ou tegnologie op ‘n nuwe manier maak deure oop vir groter doeltreffendheid in die bekamping en voorkoming van plaasaanvalle.
Méér hieroor Donderdag, 21 Maart om 11:25.

Staatsverval en Swart Ekonomiese Bemagtiging:
Terwyl Dawie Roodt waarsku dat die 2024-staatsbegroting dui op toenemende vernietiging – van sleg na slegter – in die komende vyf jaar, meen Piet le Roux dat plattelandse gemeenskappe nie net kan oorleef nie, maar ook floreer. Staatsverval bied ‘n historiese geleentheid: om in die volgende dekade die staat se rol in die ekonomie te herdefinieer, van onder af. Dan vestig ons die strukturele voorwaardes vir ‘n florerende ekonomie, maak nie saak wie die regering is nie.
Le Roux waarsku egter teen ‘n Derde “golf” Swart Ekonomiese Bemagtiging (SEB) wat besig is om besighede te belemmer en uiteindelik te verbied om sake te doen tensy hulle hulself eers aan SEB-monitering en BEE-teikens onderwerp. Uitvoerplase is reeds deur SEB-kriteria getref. Laat verlede jaar is SEB-kriteria gestel vir tariefvoordele vir seker produkte wat na die EU en die VK uitgevoer kan word. Terwyl SAAI, TLU SA en Sakeliga groot stof daaroor opgeskop het, het Agri-SA, Wine SA, Hortgro en Agbiz gesê dat dit niks nuuts is nie en weinig impak op die bedryf sal hê. Nou wil boere weet: Hoe SEB ek my boerdery?
Moenie die gesprekke hieroor op 21 Maart 2024 misloop nie.

Onderwys
Hoe gemaak wanneer die regering beheer oor onderwys wil oorneem? Die BELA-wet is ‘n voorstel om ingrypende veranderinge aan die Suid-Afrikaanse Skolewet te maak. Dit raak verskeie gesinsdinamieke, insluitend diegende met kinders in publieke skole, tuisonderwys, kothuisskole en aanlynskole. Moenie hierdie gesprek op 22 Maart 2024 misloop nie. Begryp die impak van die wetsvoorstel.
Al die paneelgesprekke en onderhoude in vanjaar se Kopskuifateljee word regstreeks op KragDag se Facebook-blad uitgesaai.

PROGRAM:
Donderdag, 21 Maart 2024
10:25: Die volgende vyf jaar: Van sleg na slegter
• Dawie Roodt, hoofekonoom van die Efficient Groep en aanbieder van die televisieprogram Ontbytsake
11:25: Landbouveiligheid: Alternatiewe planne
• Springbok-legende Richard Bands van Formentco
• Theo de Jager, voorsitter van SAAI en voormalige president van die Wêreldboere-organisasie
• Gideon Joubert, hoof van sekuriteitsprojekte by Sakeliga
12:25: Die derde golf van BEE
• Piet le Roux, uitvoerende hoof van Sakeliga
13:05: Privaat energieopwekking
• Chris Bosch, stigter van Rural Maintenance
• Carel Ballack van PQRS, ‘n energie- en sonkragkonsultant
• Chris Opperman en Francois Mellet van C5 Capital
Vrydag, 22 Maart 2024
10:25: Jag red spesies
• Richard York, Hoof Uitvoerende Beampte van Wildbewaring Suid-Afrika
11:05: Wanneer die regering beheer oor onderwys wil oorneem
• Wikus Breetzke, MOS-Wêreldwys Aanlyn-tuisskool
• Bouwe van der Eems van die Pestalozzi Trust
12:05: Stokkie aangee – opvolgbeplanning in familieboerdery
• Willem van Jaarsveld, besturende direkteur van LARDA
• Bennie van Zyl, hoofbestuurder van TLU SA
13:05: Orania – ‘n toekomsalternatief
• Du Preez de Villiers, outeur en politieke en maatskaplike ontleder
Saterdag, 23 Maart 2024
10:25: Veiligheid in ‘n misdaadbesmette staat
• Ian Cameron, veiligheidsaktivis en direkteur van Firearms Guardian
• Daniël Eloff, direkteur by Hurter Spies Prokureurs in Kaapstad
• Bennie van Zyl, hoofbestuurder van TLU SA
11:25: Die wat en waarheen met ons wyn
• Theo de Jager, voorsitter van SAAI en voormalige president van die Wêreldboere-organisasie
• Schalk Burger, familie wynboer van Schalk Burger and Sons
12:25 Oplossings vir verval in die platteland
• Piet le Roux, uitvoerende hoof van Sakeliga
• Chris Burgess, redakteur van die Landbouweekblad
13:05: Hoe SEB ek my boerdery?
• Bennie van Zyl, hoofbestuurder van TLU SA
• Theo de Jager, voorsitter van SAAI en voormalige president van die Wêreldboere-organisasie
• Lennox Plaatjies, direkteur van Babisane Boerdery en ‘n raadslid van Witzenberg PALS
• Jannie Strydom, hoof uitvoerende beampte van Agri Wes-Kaap
14:05: Moontlike Wes-Kaap afstigting
• Heinrich Wyngaard, uitvoerende voorsitter van die Kaapse Forum
• Jack Miller, stigter van die Kaapse Onafhanklikheidsparty
• Phil Craig, leier van die Referendum Party
• Corné Mulder, provinsiale leier in die Wes-Kaap en hoofsweep van die Vryheidsfront Plus
• Robert Duigen, redakteur en politieke analis van The Cape Independent