Pa en seun publiseer in selfde week
Hulle het hulle ses jaar gelede in die Swartland kom vestig om naby hul kleinkinders te wees.
Prof. Frik de Beer (69), emeritus-professor, was vir 35 jaar verbonde aan Unisa waar hy hoof was van Ontwikkelingstudies.
Hy het sy doktorsgraad in 1988 verwerf en oor die jare ‘n groot aantal akademiese publikasies in Engels die lig laat sien en ook baie akademiese artikels waarvan die mees onlangse in 2021. Hy was ook redakteur van Africanus: Journal of Development Studies, maar nou het De Beer ‘n “soort van ‘n historiese roman” geskryf. Dié keer in Afrikaans.

Die gestaltes wat in ons aanwesig is: wording van ‘n bleek Afrikaan het pas by Turksvy Publikasies verskyn in dieselfde week wat sy seun dr. Andries de Beer (41) se eerste digbundel aalmoes vir die bootman ook deur Turksvy bekendgestel is.
De Beer sr. vertel aan dié courant dat hy en sy vrou, Linda, na verskeie dorpe in die Wes-Kaap gekyk het om hul te vestig, maar toe op Malmesbury besluit. Hul twee seuns woon in Durbanville en hul dogter in Engeland.
Hy en Linda maak graag tuin en reis tussendeur so dikwels as moontlik. Kuier saam met hul kinders en kleinkinders is vir hulle die toppunt van geluk.
Al het De Beer reeds teen die einde van 2015 afgetree, is hy tans nog promotor vir vyf doktoraal-studente aan Unisa.
Iets waarvan hy baie hou en deur die jare ook groot lof ontvang het van die 20 doktorsgraad- en 8 meesterstudente wat reeds hul grade in ontwikkelingstudies ontvang het.

Hy en Andries was verlede jaar ook saam redakteurs van die sewende uitgawe van Community development in the 2st century: Empowerment for breaking the cycle of poverty, uitgegee deur JUTA.
In Die gestaltes wat in ons aanwesig is, skryf De Beer oor sy ouma se belewenis van die Anglo-boereoorlog en dan in kontras, die blou-oognoointjie in Londen wat sy hart steel om daarmee die sleg van die verlede te besweer.
Hy sê hy het die Covid-tyd gebruik om dié memoir te skryf oor verhoudings en liefde in ‘n tipiese Afrikaner-gesin in die apartheidsera.
Hy skryf oor sy belewenisse, sy sieninge midde die tyd – ‘n era waarin hy soms, saam met ander, ‘n bietjie teruggedruk het.
Ook die werklikheid dat ‘n mens nie altyd dieselfde – aan dieselfde kant – is nie. ‘n Kombinasie van ware en fiksie – “daar is baie goed wat anders gestel is, want party goed raak mense wat nog leef of hul nageslagte leef en ek kan nie persoonlik raak daaroor nie.” Hy het dan “byvertel en byverbeel”.
“Ek het altyd gedink ek wil aan myself verduidelik hoe ek die apartheidtyd beleef het en die bietjie teenstand. Waarom en hoe en wat die gevolge was. Die gevolge was swak familieverbande in ‘n sekere sin. Dit is soort van die prys wat ‘n mens betaal. In die Afrikaanse verband is ons mos maar in die kraal. In die kerk en in die party. Jy maak nie vreemde geluide nie.”

Hy praat ook oor die invloed van die Anglo-Boereoorlog en die vrae oor wie is bittereinders en verraaiers en wanneer.
Dit is ook waar die titel van die boek sy oorsprong het. Van Wyk Louw se “gestaltes wat in ons is”.
“Ons is nie net een of die ander nie. Ons is dikwels ‘n mengsel of by tye die een of die ander.
“Dit was vir my ‘n heerlike ontdekkingsreis om te dink hoe die lewe gegaan het – ook oor staaltjies”.
Terugskouend oor sy eerste roman: “Ek weet nou waar die liefde lê. Ek weet onse eie Christelike nasionalisme hou geen durende waarheid in nie. Ook nie die kerk se evangelie wat valse gerusstelling bied en mantel na die politieke winde draai nie. Of dit nou die Apostoliese Geloofsbelydenis of dié van Belhar is – dis klinkende metaal en luidende simbale. Ek kyk op en verdrink weer diep in die groen poele, die oë van my vrou. ’n Lewe saam. ’n Lewe met verwondering oor ons kleindogters en kleinseuns, ons eie en aangetroude kinders. Oor familie, wat groter is as enige volk- of kerksaak.”

C. Johan Bakkes skryf oor Gestaltes: “My ma het eendag gesê niks en niemand verdwyn werklik uit jou lewe nie, want daar is altyd die onthou. Op ’n aweregse manier dra Frik de Beer se boek by tot die herinnering aan die verlede. Die republikeinse stryd, Anglo-Boereoorlog en Afrikanernasionalisme uit die vorige eeu word deur die skrywer geskets. Met fyn waarneming uit sy Wesrandse middelklas-grootwordwêreld gee hy ’n persoonlike vertolking van gebeure om hom. Tussendeur kom die pa-en-seun-verhouding ter sprake. Ook oor die taalstryd het hy iets te sê, en oor bittereinders en verraaiers in die Afrikanergeskiedenis skryf hy uit eie en familie-ervaring. Vir my was dit ’n heerlike leeservaring. Frik de Beer bevestig dat elk ’n eie persepsie van gebeure het. Daar is verskeie kante en alle kante is geldig. Die boek is besaai met humor, selfspot en egtheid.”
De Beer het lof vir Turksvy Publikasies en uitgewers Marlene Malan en Daniel Hugo. “As ‘n boek deur hulle hande is, weet jy dit is foutloos.”

Ons gesels ook oor ontwikkeling en sogenaamde “NGO’s”.
“Daar is so baie mense wat wil goed doen. Wil help, maar hulle weet nie altyd waar nie.”
Baie goeie mense met goeie bedoelings wat aksies loods en infrastruktuur staanmaak, maar ons sien ongelukkig dat die geld dikwels opdroog en dan val als plat, sê hy.
Die volhoubaarheid en eienaarskap is in baie gevalle die probleem. Die befondsingsmodel is een van die groot uitdagings.
Hy voeg by dat daar wel voorbeelde van sukses in die Swartland is soos Goedgedacht wat baie goeie werk doen en Jo-Dolphin. “Goeie netwerke is al manier om te oorleef.”

Andries is ‘n dosent op Wellington in Toerisme aan die Kaapse Skiereiland Universiteit van Tegnologie.
Hy het al onder verskeie skuilname geskryf, insluitende Die Markies van Karrebas en Abjater Ronkedoor. Op die verhoog tree hy op as Andries van Pretoria en is lid van die slam-digters-en-musikantegroep Oopmondbende.
Oor aalmoes vir die bootman sê Gert Vlok Nel: “Die legendariese Afrikaanse slam-digter stap van die verhoog af tot op die papier en is só welkom.”
Valiant Swart voeg by: “’n Sonderlinge talent en ’n aanwins vir punk poetry in Afrikaans.”
Die droom wat op 15-jarige ouderdom met ‘n gedig oor vrede in Suid-Afrika begin het, het so die lig gesien.
Die twee boeke kan bestel word by Frik de Beer: frederikdebeer1@gmail.com en Andries de Beer: debeer.m.a@gmail.com