LatestSports

Hofmeyr oes 40ste Comrades-medalje

Die Swartlandse langasem Hercu Hofmeyr het Sondag ‘n besondere mylpaal bereik toe hy sy 40ste Comrades Marathon voltooi het. Daar is baie min atlete wat met 40 Comrades-medaljes asook meer as 40 Twee Oseane-madaljes kan spog.
Hofmeyr (66) het vroeër vanjaar sy 42ste Twee Oseane-marathon kafgedraf.

Hy moes Sondag vir die eerste keer die uitmergelende Comrades-wedloop aandurf sonder die ondersteuning van sy vrou, Wilma, wat onlangs oorlede is. Haar roudiens vind eerskomende Saterdag 15 Junie om 10 vm in die NG Moederkerk op Malmesbury plaas.Hofmeyr het sy eerste Comrades in 1981 aangedurf en sedertdien nooit teruggekyk nie.
dié courant het 13 jaar gelede met hom gesels toe medalje nommer 30 vir hom gewink het. (Sien berig hieronder).
Die voorsitter van die Swartland Atletiekklub, Piet Smit, vertel Hofmeyr het las van ‘n kniebesering en het ten spyte daarvan Sondag volhard om die wedloop binne die toegelate tyd te voltooi en sy 40ste Comrades-medalje in te palm.
“Dat hy ‘n ysterman is. ‘n Ou wat kan volhard. Dat hy kan uithou. Dit is seker. En hy is baie nederig daarby ook. Jy sal nooit hoor dat hy spog of iets nie.”
Smit voeg by: “Hercu het menigmale ook al die Sportman van die Jaar-trofee van die Swartland Atletiekklub gewen.”
“Hy was ook ‘n knap halfmarathon-atleet.”

Smit het Hofmeyr en sy dogter, Magda, verlede maand voor die eindpunt in die Rhodes Quality (voorheen SAD Safari)-halfmarathon op Wellington afgeneem.

Smit vertel ook van Hofmeyr se dogter, Magda, hardloop ook en is ook lid van die Swartland Atletiekklub. Sy het verlede maand saam met haar pa aan die Rhodes Quality (voorheen SAD Safari)-halfmarathon op Wellington deelgeneem en saam oor die wenstreep gedraf.
Hofmeyr se seun, Wynand, is ook ‘n uitstekende sportman wat die laaste klompie jare in fietsry uitblink vir die ASAP-span. Hy jaag gereeld podiumplekke los, soos verlede naweek in die Ronde van Riebeek (100 miler) toe hy in die 50 Myl (88km) in ‘n tyd van 2:45:09 tweede geëindig het.

Onder die ander deelnemers uit die Swartland wat Sondag medaljes in die Comrades-marathon losgehardloop het, tel:
Riaan Van Zyl (Cape Multi Sport-klub) 50-59 – met ‘n tyd van 08:21:28
Herman Engelbrecht (Swartland Atletiekklub) – 40-49 met ‘n tyd van 09:31:33
Marina Orffer-Smith (Vitality Atletiekklub, WP) – 60-69 met ‘n tyd van 10:02:22
Jaco Geldenhuys (Vitality Atletiekklub, WP) – 40-49 met ‘n tyd van 10:23:23
Hildegarde Geldenhuys (Vitality Atletiekklub, WP) – 40-49 met ‘n tyd van 10:23:24
Juanine Langeveldt (Durbanville Atletiekklub) – Senior met ‘n tyd van 10:28:08
Hannes Pieters (Swartland Atletiekklub) – 50-59 met ‘n tyd van 10:54:22
Hanselie Swarts (Swartland Atletiekklub) – 50-59 met ‘n tyd van 11:25:46
Hercu Hofmeyr (Swartland Atletiekklub) – 60-69 met ‘n tyd van 11:34:11
John Loxton (Swartland Atletiekklub) – Senior met ‘n tyd van 11:39:35
Jaco Neethling (Swartland Atletiekklub) – 40-49 met ‘n tyd van 11:57:07

Só het dié courant in April 2011 oor Hofmeyr berig:

Hofmeyr draf ultra-marathons kaf

Met 30 medaljes vir die Twee Oseanemarathon in sy sak, en ‘n beoogde 30ste medalje by die Comrades in Mei vanjaar, pak Hercu Hofmeyr Saterdag sy 31ste marathon tussen die twee oseane aan.
“Voor die Twee Oseane-marathon (56 km) oefen ek altyd 1 000 km van Januarie tot April. Dan weer 1 000 km voor die Comrades (89km, tussen Pietermaritsburg en Durban, einde Mei). Maar vandat ek nie meer gaan vir die silwer medaljes nie, hardloop ek eerder 500 km tussen die Twee Oseane en die Comrades-marathon.” Hofmeyr se 29 Comrades-tye sedert 1981 (hy het weens ‘n motor-ongeluk in 1993 nie aan dié ultra-marathon deelgeneem nie) wissel tussen 6h38min (vinnigste) tot 8h30.
Sy Twee Oseane-tye oor die laaste 30 jaar wissel met net een uur. Dit beteken dat hy sedert hy as 23-jarige deelneem en sy huidige status as veteraan, steeds ‘n konstante spoed handhaaf, met sy tye wat oor 30 jaar met net 60 minute verskil.
Hy het ongeveer 15 silwermedaljes (onder vier uur) op dié manier losgedraf. Hofmeyr het in Januarie 1981, nadat hy ‘n nekwerwel beseer het in rugby, begin draf. Kort daarna het hy die Peninsula-marathon gehardloop, met die Twee Oseane- en Comrades-marathons wat daarop gevolg het. Daarna het hy nog nooit weer teruggekyk nie en is sy daaglikse drafsessie deel van sy lewe.

‘Die eensaamste, maar ook die lekkerste marathon’

Hofmeyr is gebore en getoë in Somerset- Wes, waar sport altyd deel van sy lewe was. Toe hy in 1979 op Malmesbury begin werk het, het die Swartland Atletiekklub nog nie bestaan nie, daarom was hy aanvanklik lid van die Helderberg Atletiekklub.
Sedert die ontstaan van die plaaslike klub, is Hofmeyr lid van die Swartland Atletiekklub. “Ek onthou nog die lekker drafmaats van daardie jare,” sê Hofmeyr.
“Mense soos Karl Liebertrau, Hennie Vlok, Riaan van Zyl, Mari Burger, Chris Pio, Dries Trollip, Owen Bothé, Mike en Lily Reynolds, Frank Roberts, Chrisjan Marais en die Wolmarans tweeling.”
Deesdae oefen hy meestal alleen, of sy seun, Wynand, ry saam met hom fiets. “Alles draai nou om my kinders en hul programme,”verklaar hy. Op pad na Wynand (13, in Hoërskool Swartland) se wedstryde, sal hy vroeg wegspring na Durbanville of Paarl, dan laai sy gesin hom later op. Magda (15) gaan skool in die stad.
Sy lekkerste marathons? “Beslis die 80km Karoomarathon by Laingsburg. Die eensaamste, maar ook die lekkerste marathon. Ek geniet die hele opset daar; die gees en almal se saamlééf is baie lekker.” Hy het reeds 15 Karoo-marathons voltooi, waar hy eenkeer derde gekom het en ‘n paar keer die veterane-afdeling gewen het.

‘Die skoenlappers is maar elke keer daar’

Voel hy steeds skoenlappers in sy maag voor ‘n groot marathon? “Voel ‘n mens dan ooit reg vir ‘n marathon? Ek het al baie marathons gehardloop, maar soveel dinge kan verkeerd loop. Die wind en erge hitte het al baie gepla by die Twee Oseane, siekte of ‘n swak wegspring … Die skoenlappers is maar elke keer daar.”
Soos die keer by die Comrades-marathon, toe Hofmeyr se ‘champion chip’ afgeval het en niemand kon rekord hou van sy draftye nie. Hierdie skyfies word aan drawwers se skoenveters vasgemaak en hou tred van drawwers se drafrekord wanneer hulle op spesifieke punte oor elektroniese matte hardloop. Omdat hy fisies moes aanmeld by hierdie monitor-punte sodat sy tye neergeskryf kan word, het baie ekstra tyd verlore gegaan. Toe sy vrou onraad vermoed en navraag doen, het dit gelyk asof Hofmeyr nog nooit weggespring het nie.

‘Tydens elke wedloop is ek baie bly ek het dit gedoen!’

Almal in die Swartlandse atletiekwêreld ken sy vrou, Wilma, vurige ondersteuner en ‘second’ wanneer die atlete oefen of deelneem. Sy staan ook bekend as die “kwaai vrou” wat sport betref, maar hieroor lag Hofmeyr net. “Dit pla my nie! Kyk net hoe ondersteun sy en die kinders my!”
Gevra oor beserings, sê Hofmeyr dat die regte skoene dié belangrikste voorkomende maatreël is. “Die regte skoene en goeie voorbereiding. En jou kop moet reg wees.”
Hy het hom nog baie selde weens beserings aan ‘n wedloop onttrek. Hoe lank sal Hercu Hofmeyr nog hardloop? “Ek beplan nie om op te hou nie! “Solank ek gesond bly, sal ek aanhou. Ek geniet dit, ek hardloop elke dag al die ‘worries’ uit my gestel uit!
“Tydens elke wedloop is ek baie bly ek het dit (die wedloop) gedoen!”

Leave a Reply

error: Content is protected !!