LatestSports

Ierse roeier wil Berg oor 3 weke tem

Die Bergrivier vloei reeds aansienlik sterker as ‘n week of twee gelede en die tafel is gedek vir die 2024 Bergrivier Kanomarathon wat van 3 tot 6 Julie plaasvind.
Dié moordende resies oor vier dae het vanjaar weer ‘n internasionale kleur met die professionele Ierse kanovaarder David Horkan wat gaan probeer om ‘n groen stempel op Berg te kom afdruk.
Horkan is welbekend as ‘n avontuur-kanovaarder. Hy was in 2023 Ierland se Avontuurroeier Van die Jaar en wil nou die Berg op sy kerfstok byvoeg.
“Suid-Afrika is wêreldwyd bekend vir kanovaart en lewer wêreldklas-roeiers op,” het dié voormalige medaljewenner in die Europese Kampioenskap gesê uit Ierland waar hy tans oefen in die aanloop tot die sy reis en deelname aan die Berg.

“Die standaard op die Berg weerspieël die standaard van Suid-Afrikaanse roei – jy hoef net na die uitslae oor die jare te kyk en dit is dikwels ’n wêreldkampioen wat die wedren wen.
“Ek sal verheug wees om onder die top-tien te kom, maar ek het eintlik geen idee totdat ek op dag een tussen die ander deelnemers aan die roei kom nie. Om slaggereed by die beginlyn te kom en ook die eindpunt te haal, is altyd die twee hoofprioriteite. ’n Goeie uitslag is dan ’n bonus,” sê Horkan.
As ervare roeier in uitdagende kanovaarte soos die Devizes na Westminister oor 200 km sê Horkan “die Berg moet beslis gereken word saam met die beste en mees uitdagende van hulle almal.”
Horkan, wat in die Euro Steel-spankleure sal roei, voeg by: “Ek is goed gewaarsku oor die rivier en sy bome, potensiële blokkasies, winde en selfs die risiko om te verdwaal.”

Intussen sit plaaslike roeiers hulle voorbereiding vir vanjaar se marathon voort en het hulle die afgelope naweek van Hermon tot Gouda geroei.
Die deurwinterde Robbie Herreveld wat die Berg in die vroeë 90’s oorheers het met ses agtereenvolgende seges van 1991 tot 1996 het Saterdag eerste by die eindpunt aangekom in ‘n tyd van 2:15:20,008.
Herreveld was 19 toe hy in 1991 sy eerste Bergtitel gewen het in ‘n tyd van 14:47:12 met ‘n vol veld van 290 roeiers wat die wedvaart voltooi het.
Heinrich Schloms was Saterdag ‘n breukdeel van ‘n sekonde ná Herreveld tweede in 2:15:20,783.

Die res van die eerste 10 plekke Saterdag was Divieano Pietersen (2:22:18,323), Ernest van Riet (2:24:54,823), Jermaine Pietersen (2:26:55,707), John De Villiers (2:29:22,787), Benjamin Bradford (2:31:38,777), Daniel Louis Buys (2:31:39,079), Chris de Waal (2:31:44,001) en Marais Steyn (2:33:46,643).

Dit nadat roeiers die vorige week op 1 Junie van Wellington na Hermon geroei het. In daardie wedvaart was Petersen eerste in 2:39:42.497.
Heinrich Schloms was toe ook tweede in 2:45:09.223 gevolg deur John de Villiers (2:52:21.29), Benjamin Bradford (3:02:09.563), Ross Leslie (3:03:33.177), Brian Whiteford (3:06:42.29), Daniel Louis Buys (3:06:43.85), Marais Steyn (3:15:04.363), Rademeyer Dippenaar (3:21:42.103) en Tayla Isaac (ook die eerste vroue) 10de in (3:26:58.303).

Leave a Reply

error: Content is protected !!