Grootuitdaag in Swartland nog wawyd oop
Die eerste reeks wedstryde in die tweede ronde van Boland Rugby se Grootuitdaag-klubliga het die afgelope Saterdag, soos haas elke week, weer ‘n verrassing of twee opgelewer.
Die spanne skryf elke Saterdag ‘n nuwe hoofstuk van die draaiboek en om nou al die uitslag van die liga te voorspel, sal onwys wees.

In die Swartland-afdeling het die Lillies van Abbotsdale die eerste ronde in die eerste posisie afgesluit op 41 punte met Good Hopes van Riebeek-Wes twee punte agter hulle in die tweede plek.
Wesbank was voor die aanvang van die tweede ronde derde met 37 punte.
Good Hopes kon Saterdag verrassend nie daarin geslaag om Moorreesburg (7de op die punteleer) te klop nie en moes met ‘n gelykopuitslag teen Samoa (23-23) tevrede wees.
Hulle het slegs twee ligapunte aangeteken en so teruggesak tot in die derde plek en is nou ‘n enkele punt agter Wesbank (tweede op 42) en Abbotsdale verder voor op 46 punte.
Abbotsdale het Saterdag na Saron gereis en ‘n oorwinning van 35-17 behaal met Wesbank wat hul wegwedstryd op Riebeek-Kasteel teen Riebeek United met 31-18 gewen het.
Darling het ná die afgelope naweek se wegsege (42-19) oor Young Eagles van hul vyfde plek tot vierde opgeskuif met 38 punte en Porterville het een afgeskuif na nommer vyf (35 punte).
Never Despair het Saterdag tuis teen Villagers Wittewater gespeel en met 33-10 as wenners van die veld gestap.

Die oorblywende spanne se posisie op die punteleer is in volgorde is:
Never Despair (sesde met 28 punte), Moorreesburg (sewende – 24 punte), Riebeek United (agtste – 22 punte), Saron (negende – 21 punte), Villagers Wittewater (tiende – 14 punte) en Young Eagles (11de op 6 punte).
Die komende Saterdag kan veral Abbotsdale op hul tuisveld ‘n groot aanslag van Good Hopes verwag wat alles in die stryd sal werp in ‘n poging om weer die tweede plek te probeer in neem.
Hulle moet egter ook agter hulle kyk, want Darling klop ook aan die deur vir die derde plek as hulle ‘n tuissege oor Riebeek-United kan behaal.
Die kans dat Wesbank hierdie naweek hul tweede plek sal afstaan is egter klein wanneer hulle gasheer speel vir Saron (tans 9de op die punteleer).
Sou Abbotsdale verrassend vasval, kan Wesbank dalk die eerste plek inneem.
Die laaste woorde in die liga is dus nog lank nie gespreek nie en daar wag nog 10 weke se klipharde rugby in die liga.
Moorreesburg speel Saterdag tuis teen Never Despair en Villagers Witteater ontvang die spanne van Porterville.