ST hou sessie oor “supervroue in toerisme”
Die vuur het warm gebrand in die Vyestoor op Kloovenburg op Riebeek-Kasteel toe ‘n klompie vroue op ‘n koue Vrydagmôre gaan luister het na die inspirerende boodskappe van vier sprekers.Swartland Toerisme het ‘n oggend gehou om “Supervroue in Toerisme” te vier en gaste te inspireer om hul drome te verwesenlik.

Die vier sprekers was raadsdame Sandra Crafford (onderburgemeester van die Weskus Distriksmunisipaliteit), Nicole Neethling (eienaar van Flour & Oil – ‘n prokureur wat sjef geword het en deesdae inspireer met kookkursusse), Corne Koch (hoof van die Wesgro se Kaapstadse en Wes-Kaapse Konvensieburo) en Fiona Angelico (adjunkdirekteur by die toerismenetwerkliggaam Skål International).Swartland Toerisme se bestuurder, Lizelle Carstens, sê die geleentheid het die uitsonderlike vroue vereer wat die toerismebedryf vorentoe dryf in die Swartland-streek.”Vroue is die ruggraat van hierdie sektor.”

Meer as 50 vroue het bymekaargekom en geluister na die insiggewende voorleggings van vooraanstaande sprekers wat die deurslaggewende rol van vroue in die vorming van die bedryf beklemtoon het.”Naas die toeligting van die belangrike rol van die vrou in die sektor deur die sprekers, het Angelico ook sleutelaspekte van die bekamping van mensehandel uitgelig – veral relevant vir gasvryheidseienaars soos Airbnb-gashere en -vroue.Koch het klem gelê op die belangrikheid van samewerking.

Carstens sê: “Die geleentheid is afgesluit met ‘n gevoel van bemagtiging en kameraadskap onder deelnemers. Dit herbevestig die noodsaaklike rol van vroue in die aandryf van innovasie en groei in die Swartlandse toerismelandskap.”