LatestSports

Berg nou om die draai

Oor ‘n week is die roeiers al goed op pad op die derde, langste en voorlaaste skof van die 62ste moordende Bergrivier Kanomarathon. Een van die wêreld se heel grotes.
Vrydagoggend spring die roeiers weg by Bridgetown buite Moorreesburg en roei 16 kilometer verder oor die Misverstanddam en later oor die keerwalle by Moravia en Soetdraai en onder deur die Klipheuwelbrug voor die skof van 74,8km by Zoutkloof eindig.
Teen daardie tyd het die roeiers dan reeds die grootste deel van die rivier se kronkels en hoekies en draaitjies agter die rug met die eerste twee dae van onderskeidelik 62,1km en 45,7km.

Daar het tot dusver vanjaar meer roeiers ingeskryf as vorige jare en in veral die vroue-afdeling sal die kompetisie aansienlik sterker wees.
Die verdedigende kampioen, Christy Shrimpton, sal nie vanjaar tussen die deelnemers wees nie.
Die Swartlander wat vir die Paarl Kanoklub roei, Ansuné Basson (sien berig van verlede jaar) , het verlede jaar haar vyfde Berg voltooi en derde geëindig in ‘n tyd van 22:17:28.
Sy het vanjaar weer ingeskryf en sal in die subveterane afdeling (>35) deelneem.
Die jonger naaswenner van 2023, Bianca Beavitt; Stephanie von der Heyde wat tot dusver vanjaar baie goed vertoon het en die o.23-roeier Tayla Isaac is die vroeë gunstelinge.
In die afwesigheid van Hank McGregor, wat die Berg vir ‘n rekord 13 keer gewen het, in die mansafdeling word die name van verlede jaar se naaswenner, Jeremy Maher (KZN), Thomas Lovemore (Oos-Kaap) en Thabani Msia (KZN) as vroeë gunstelinge genoem saam met dié van die meer ervare roeiers soos die deurwinterde Robbie Herreveld wat die Berg in die vroeë 90’s oorheers het met ses agtereenvolgende oorwinnings. ‘n Aansienlik ouer Herreveld het tot dusver vanjaar baie goed gevaar in voorbereidingswedvaarte op die Berg.

Van die ander ervare roeiers wat die ander gunstelinge sal uitdaag en beslis plekke onder die top-tien kan verwerf, tel Heinrich Schloms, Paul Marais en Thulani Mbanjwa.
Die marathonkampioen van Ierland, David Horkan, moet beslis ook nie buite rekening gelaat word nie, al het hy nie die rivierkennis van die Berg soos die meeste van die ander roeiers nie, veral omdat die riviervlak ‘n bietjie laag is vanjaar.
Aanstaande week se marathon is ook ‘n mylpaal vir van die mees ervare en legendariese Berg-roeiers.
Een van hulle is die hooforganiseerder van dié groot marathon, Rene Boehm, wat daarmee saam ook kans sien om Woensdagoggend in die Paarl in sy kano te klim vir sy 40ste Berg.
“Ek het my eerste Berg in 1974 gedoen en het sedertdien net 10 gemis weens onder meer nasionale diens in die vloot in 1976 asook my klompie jare in Switserland en later in Pretoria.
“Sedert 1999 het ek egter nog nooit ‘n Berg gemis nie,” sê Boehm.

“Ek het vir 40 jaar in die vloot beland waar ek baie geroei het. Met my eerste verlof het ek my ouer broer Edgar gekontak en gesê ons moet begin met kanovaart. Vir R55 het ons ‘n boot, roeispaan en sitplek gekoop.”
Edgar is op die marathon se ererol met 45 Berge agter sy naam, maar is ongelukkig ‘n paar jaar gelede oorlede.
“Die Berg is enkelvaart en is nie maklik nie. Dit verg respek en behoorlike voorbereiding, maak nie saak hoeveel keer jy die uitdaging aandurf nie.”
Nóg ‘n legende op die Berg, Jannie Malherbe, wil vanjaar op 85 sy 51ste Berg voltooi.
Hy het al 50 medaljes op sy kerfstok en sal met 51 die titel vir die meeste medaljes deel met Giel van Deventer wat in 2022 oorlede is.

Leave a Reply

error: Content is protected !!