FEATUREDOns Mense

Nuwe Tuks-rektor gesels oor Swartlanddae

Hy is ‘n boorling van Oudtshoorn, maar het sy laer- en hoërskooljare in die Swartland voltooi voor hy ingenieurswese gaan studeer het.
Nou is prof. Francis William Petersen aangestel as die nuwe rektor en vise-kanselier van die Universiteit van Pretoria (Tuks) met sy sewe kampusse en meer as 54 000 studente.

Petersen was die afgelope sewe jaar sedert 1 April 2017 ook vise-kanselier en rektor van die Vrystaat Universiteit met drie kampusse – twee in Bloemfontein en een in Qwaqwa.
Met sy aanstelling destyds het Petersen se moeder, Mary, aan dié courant vertel hy was altyd ‘n huiskind en lief vir sy boeke (sien berig of hier)
Petersen is in 2022 vir ‘n tweede termyn by die Universiteit van die Vrystaat aangestel en is ook tans voorsitter van Universiteite Suid-Afrika se raad van direkteure.
Hy was op Philadelphia op laerskool waar sy pa ook die skoolhoof was en het later aan Schoonspruit Sekondêr op Malmesbury gematrikuleer.

As ‘n gekwalifiseerde metallurgiese en chemiese ingenieur het hy ‘n meestersgraad in metallurgiese ingenieurswese asook ‘n doktoraal.
Ons het prof. Petersen gevra om te vertel van sy skooljare in Meulenhof Primêr op Philadelphia en in Schoonspruit.
Luister gerus na sy vertellings, ook oor skoolmaats en die onderwysers wat ‘n groot rol in sy skoolloopbaan en toekoms gespeel het – Meulenhof Primêr en Schoonspruit Sekondêr

Die Universiteit van Pretoria het oor sy aanstelling in ‘n verklaring gesê: “Deur sy loopbaan het prof. Petersen verskeie akademiese poste beklee, insluitend rolle by die Universiteit van Stellenbosch, Kaapse Skiereiland Universiteit van Tegnologie en die Universiteit van Kaapstad. Sy leiersrolle vroeër het gewissel van departementshoof tot dekaan en adjunk-visekanselier, wat sy uitgebreide ervaring in akademiese bestuur op departementele, fakulteits- en institusionele vlakke ten toon stel.
“Prof. Petersen bring ‘n uitstekende rekord van akademiese leierskap en ‘n magdom ervaring in hoër onderwys na sy nuwe rol. Met ‘n diverse agtergrond wat strek oor ingenieurswese, finansies en akademiese bestuur, is hy gereed om die Universiteit van Pretoria in ‘n nuwe era van innovasie en uitnemendheid te lei.”
Petersen het ook al noemenswaardige bydraes tot nywerheid- en wetenskapsrade gelewer.

David Noko, voorsitter van die raad van die Vrystaat Universiteit, het hom namens die hele universiteitsgemeenskap bedank vir sy toegewyde leierskap en hom alle sterkte toegewens in sy nuwe rol by die Universiteit van Pretoria.
Die universiteit se skakelafdeling sê: “Prof Petersen se ampstermyn by die UV is gekenmerk deur merkwaardige leierskap.
“Die universiteitsraad het ook groot waardering uitgespreek vir die werk wat hy gedoen het asook vir die universiteit se prestasies onder sy leiding.
“Uitnemendheid, inklusiwiteit, innovasie, akademiese vryheid, ‘n besondere fokus en klem op kritiese ondersoek, sosiale verantwoordelikheid en integriteit was onder die waarde-eienskappe waardeur prof. Petersen gelei het as visekanselier en rektor van die UV.

“Hy het die universiteit deur uitdagende en komplekse tye gelei – nie net vir die instelling nie, maar ook vir die hoëronderwyssektor – met ’n primêre fokus op en verbintenis tot betrokkenheid van belanghebbendes. Hy het stabiliteit vir die universiteit gebring en groot klem gelê op die instelling se sigbaarheid en die impak daarvan op die samelewing.”
Gepols oor sy visie vir UP, sê Petersen dit is “diep gewortel in die begrip van universiteite as noodsaaklike sosiale instellings”. Hy “onderskryf ten volle UP se strewe om ‘n toonaangewende navorsingsintensiewe universiteit in Afrika te wees; wat wêreldwyd erken word vir die kwaliteit, relevansie en impak daarvan en wat ‘n verskil aan die samelewing plaaslik en wêreldwyd maak.”

Sy boodskap aan die UP-gemeenskap: “As die nuut aangestelde visekanselier en rektor by die Universiteit van Pretoria is ek opgewonde om my boodskap met die universiteit te deel. Dit is gebaseer op ‘n visie wat diep gewortel is in ‘n raamwerk van institusionele waardes wat regverdigheid, integriteit, sosiale geregtigheid, kollegialiteit, vryheid van denke en uitdrukking en omgewingsrentmeesterskap vooropstel. Hierdie waardes is nie net ideale nie; hulle moet regdeur ons universiteit sigbaar gedemonstreer en beoefen word.
“Ek is daartoe verbind om te verseker dat UP ‘n baken bly vir Pretoria, ons nasie, die Afrika-kontinent en die wêreld. Dit beteken om uitnemendheid, innovasie en maatskaplike impak te beliggaam in alles wat ons doen.”
“Ek is gereed om betrokke te raak en te lei.”

Leave a Reply

error: Content is protected !!