Langste dag van Berg ’24 wag
Dit is vandag die derde en langste skof (75 km) van die Bergrivier Kanomarathon en die roeiers spring vanoggend by Bridgetown weg.
Die skof strek oor Misverstanddam en verby Die Brug, Moravia, Soetdraai en Klipheuwel voor dit by Zoutkloof eindig.

Die eerste dag se twee voorlopers, Thomas Lovemore en Robbie Herreveld, het gister hul posisie aan die voorpunt in dié moordende marathon verstewig en die twee word steeds deur minder as ‘n sekonde geskei wanneer hulle vanoggend om 08:00 wegspring.
Herreveld (52), deesdae ‘n Weskusser, het die Berg ses keer (van 1991 tot 1996) gewen. Hy was 19 in 1991 en die jongste nog om dié titel te verower.
As hy môre by Velddrif, deesdae sy tuisdorp, eerste by die eindpunt kom, sal hy ook die oudste deelnemer in die marathon se geskiedenis wees wat dit kon vermag.

Maar intussen lê twee dae se harde werk voor en sal die huidige voorloper, Lovemore (26), ook alles in die stryd werp vir die boonste plek op die podium môre.
Die Nataller was vanuit die staanspoor een van die gunstelinge vir vanjaar se titel nadat hy in 2022 die 10de plek ingeneem het en verlede jaar derde geëindig het. Hy en sy broer, Hamish, wat ook al ‘n podiumplek in die Berg losgeroei het, het verlede jaar die Orange Descent-kanomarathon gewen. Hamish neem vanjaar aan die Olimpiese Spele deel.

Die twee voorlopers in die Berg het hul voorsprong gister gerek. Met hulle tye van 8:32:57.85 (Lovemore) en 8:32:58.53 (Herreveld) is hulle tans meer as 15 minute voor nog een van die vroeë gunstelinge vir vanjaar, Jeremy Maher (8:48:03.18). Maher was verlede jaar die naaswenner.
Die top-10 posisies voor vandag se skof is:
(1) Thomas Lovemore 8:32:57.85.
(2) Robert Herreveld 8:32:58.53.
(3) Jeremy Maher 8:48:03.18.
(4) Heinrich Schloms 8:49:35.59.
(5) Msawenkosi Mtolo 8:49:56.13.
(6) Siseko Ntondini 8:58:17.46.
(7) Paul Marais 9:05:57.59.
(8) Thabani Msia 9:05:58.35.
(9) Siyanda Gwamanda 9:05:58.88.
(10) Phineas Zulu 9:25:19.76.

In die vroue-afdeling is Swartlander Ansuné Basson (11:21:02.03) steeds in die vierde plek.
Stephanie Von der Heyde (10:30:13.56) is die voorloper gevolg deur Neriyah Dill (tans 2de in 10:35:21.11) en Tayla Isaac (3de in 11:08:39.64).