LatestOns Mense

Era by Hermon Hotel ná meer as 53 jaar afgesluit

Toe sy en haar man, Pierre, drie-en-vyftig jaar gelede die hotel gekoop het, het Connie Louw (toe Le Roux) nooit kon dink dat sy eers twee en ‘n halwe geslagte later die stokkie aan nuwe eienaars sou oorgee nie.
Wanneer sy en Willem (Louw, hulle is in 1996 getroud) vanmiddag by die Hermon Hotel uit ry, laat hulle ‘n besondere nalatenskap agter.

Op die hotel se gewel staan 1894 en Connie (83) vertel sy en Pierre het dit op 1 April 1971 van Bennie Truter oorgeneem. “Dit was ‘n regte outydse hotel. Die kamers het nie badkamers gehad nie en hier was geen tuine nie.”
Dit was die tyd toe die Voëlvleidam se tweede kanaal gebou is. “Ons was besig. Almal het hier gebly. Soggens moes ons brêkfis maak. Hulle moes middagete kry en aandete. Van ‘n spyskaart af eet.”
Die hotel het oor jare ‘n gewilde afsaalplek vir verbygangers en inwoners van die Riebeekvallei geword en is veral ook bekend vir die doodskis in die kroeg.
Ons sit en gesels vroeër in die eetsaal, terwyl Willem die kroeg en die drankwinkel beman.

Willem Louw in die Hermon Hotel se bekende kroeg.

Die Hermon Hotel is een van die oudstes wat nog bestaan. Connie sê die Crown Bar in die Paarl dateer uit dieselfde era (1896). Dan is daar die bekende Klapmuts Hotel wat ook in die 1890’s gebou is. Al dateer die Royal Hotel op Riebeek-Kasteel uit 1862, is die huidige gebou in 1929 voltooi.
Hermon was vroeër jare ‘n besige klein gehuggie en stasie nadat dit in die 19de eeu as ‘n satelliet-sendingstasie op die plaas Rondeheuwel aangelê is.
Die treinspoor is volgens geskiedenisbronne in 1895 hier gebou en dit is vandag steeds die enigste treinroete uit Kaapstad na die noorde.
Boere het vroeër jare hul produkte na die Hermon-stasie gebring en ‘n bietjie by die hotel vertoef.
In die dienspligjare het jong troepe ook op die stasie afgeklim om na die vlootbasis op Saldanha te gaan.
Die hotel se kroeg is “die hart van die vallei”, sê Connie.

Die verlegging van die Wellington/Gouda-pad (R44) en die pad na Riebeek-Kasteel (R46) met die nuwe brug oor die rivier het die verkeer sedertdien om Hermon se hoofstraat herlei.
Connie vertel daar was “destyds ‘n enkelbrug oor die Bergrivier. Soos die Lady Loch-ysterbrug by Wellington.” Die rivier het voor die bou van die Bergrivierdam soms baie hoog afgekom. Dan kon hulle nie daaroor nie.

Willem en Connie Louw voor die doodskis waaroor daar al baie jare gesels word. Links is verskeie besoekers se atleetnommers. Onder ander die permanente Comrades-nommer (8809) van Tommy Moolman van Tomis Abattoir.


Die hotel se kroeg is vol memorabilia. Die groot versameling keppies en hemde het oor jare gegroei, maar dit is veral die doodskis met die “liggaam” daarbinne, wat altyd aandag trek Elkeen besluit maar self wie daarbinne lê. Connie vertel ‘n onderneming wat dié spesiale kiste vervaardig het, het toegemaak en toe het ‘n familielid die kis hier aangebring.
“Wyle Piet Goosen het vir ons die pak gegee en ons het dit vir die pop aangetrek en die mombakkies opgesit.”
Tot ‘n klompie jare gelede was die Hermon Hotel veral ook gewild vir hul smullekker biefstuk- en eisbein-aande. Mense het van ver gery en dan is daar heerlik gekuier.

Al is die kroeg vandag steeds baie gewild, lewer die bottelstoor die grootste inkomste, sê Connie.
Sy vertel Pierre was destyds vir ‘n klompie jare baie siek en sy moes toe die meeste werk self doen. Hy het dialise gekry in ‘n kamer wat hulle in die hotel ingerig het en as hulle met vakansie gegaan het, moes die dialisemasjien saamgaan. “Ek het deurgedruk.”
Pierre het vir Willem (nou 61) in Maart 1983 aangestel.
Oorspronklik van Prince Alfred Hamlet was hy self nog jonk. “Ek het van ‘n groot hotel (die Nederburg Hotel op Piketberg) hier aangekom. Toe ek daardie dag hier instap, het ek gesê hier gaan ek nie lank bly nie,” vertel Willem.

Connie Louw in die kroeg propvol memorabilia.

Pierre is ses maande later oorlede.
Toe hy oorlede is, het Connie “net besluit ek gaan nie hier weg nie. My kinders was gelukkig hier en wat moes ek in die stad of elders gaan maak.” Sy het haar vier dogters in die hotel grootgemaak. Hulle was almal in Laerskool Hermon (“ons skooltjie was toe vol met al die kinders”) voor hul hoërskoolkoshuis toe is (Bloemhof op Stellenbosch).

“Harde werk en behandel jou mense goed. Maak nie saak wie hy of sy is nie.” Dít, sê Connie, is naas deursettingsvermoë, die resep vir sukses. En “nee, dit is nie ‘n normale mens se lewe nie.
“Jy het geen tyd vir jouself nie en geen privaatheid nie.”
Connie het vandag, naas die vier dogters, ook sewe kleinkinders en vier agterkleinkinders.

Hermon, vertel sy, het vroeër ‘n slaghuis, sewe tennisbane, ‘n kleremaker, ‘n poskantoor en ‘n handsentrale en twee banke en vulstasies gehad. Daar was ook ‘n Droomers-onderneming wat hawer verkoop het.
Vandag is daar net enkele ondernemings en een winkel oor.
Sy gesels oor die dae toe sy vroegoggend op die Hermonstasie die trein kon haal Kaap toe en saans weer terug. “Nou is die stasie maar stil. Ons sien omtrent nooit meer die passasierstreine nie. Dit is net die goederetreine.”
Soms het passasiers vinnig gehardloop vir ‘n versnapering as die trein op die stasie stilgehou het.

Sy sê die hotel was ook vroeër jare volgeboek wanneer dit Bergrivier-kanomarathontyd het.
Hulle moes dan bontstaan met etes. Onder die die talle bekende besoekers in daardie tyd was die bekroonde aktrise Sandra Prinsloo.
Die grootste geleentheid waar hulle vir gaste moes regstaan, was jare gelede toe daar ‘n groot VLV-kongres in die kerksaal op Riebeek-Kasteel gehou is. “Gelukkig het ek ook ‘n baie oulike kok gehad.”
Connie het in Bellville grootgeword en in 1959 aan Hoërskool DF Malan gematrikuleer.

Die plaas Rondeheuwel het aan die Abrahamse-familie behoort toe die vier dogters dit geërf het.
Pierre se ma was een van die 4 Abrahamse-dogters. Sy het ‘n gedeelte, Kleinplasie, gekry en Pierre het dit destyds geboer.
Nou, meer as ‘n halfeeu later, gee Connie en Willem die stokkie oor aan die nuwe bestuur en hulle gaan by die Shelly Point aftree. Hulle het ses jaar gelede ‘n huis daar laat bou.
Connie sluit af: “Ek wil graag die gemeenskap en al ons kliënte oor die jare bedank vir hul getroue ondersteuning.”

Connie saam met haar kinders en kleinkinders en hul gesinne vroeër vanjaar. Foto: Maderi Vlok

Een van haar kleinkinders, Leigh Petrini, beskryf hul familie se afskeid van die hotel so:
“Today we had our last lunch at our family’s “home”, such a bitter sweet day…
Hermon Hotel, you raised two and a half generations of Le Roux’s.
Within your walls
we found our safe space…
we laughed, loved and lost…
we grew (in numbers and in characther)…
we learnt the importance of family…
we created a life time of memories…
Thank you, good bye…”

Connie Louw

*Cobus en Naomi Stander gaan nou die hotel vir die nuwe eienaar, Scott Millar, bestuur.
Hulle was 30 jaar op Montagu, maar het nie ondervinding van hotelbestuur nie.
“Ons sien baie uit en het baie planne,” sê Cobus.
Millar besit talle ondernemings waaronder Groep 35 Voedsel op Riebeek-Wes en Afresh Brands met handelsmerke soos Equi-Feeds en ook ‘n broodfabriek op Hermon.

Leave a Reply

error: Content is protected !!