LatestSports

Abbotsdale reis na Worcester; Darling is tuis

Ná die eerste ronde se kragmetings die afgelope naweek kry die Sanlam Boland Top 12-rugbykompetisie Saterdag momentum met al die spanne se tweede uitspeelwedstryde.

Die kompetisie word in twee groepe beslis waarna die top-spanne van die groepe mekaar sal aandurf. Die Swartland word deur twee spanne verteenwoordig met Abbotsdale in groep A en Darling in groep B.
Lillies het die afgelope naweek, dalk nie so maklik soos verwag, die knoop derugehak teen die besoekers van Vanrhynsdorp Eagles en moet Saterdag reis om die span van Villagers Worcester te pak.

Abbotsdale het Saterdag vinnig ‘n gemaklike voorsprong van 17-0 teen die Eagles opgebou, maar dissipline en geelkaarte teen die tuisspan was olie op die besoekers se vuur om terug te veg. Kort voor die eindfluitjie geblaas het en met ‘n agterstand van 6 punte, was die besoekers knaend op die aanval om te verras, maar kon nie die doellyn oorsteek nie.
Abbotsdale het met 42-36 gewen en lê ná die eerste ronde bo-aan die punteleer in groep A met 5 ligapunte saam met Caledon (5 ligapunte) en Villagers Worcester wat met ‘n kleiner punteverskil ook 5 ligapunte het. Laasgenoemde het op Wellington die span van Newtons naelskraap met 29-28 geklop.
Vir Abbotsdale het talle spelers uitgeblink, waaronder die kaptein, Wiam Syster, wat met voorbeeld gelei en sy span se eerste punte met die eerste van sy twee drieë aangeteken het. Hy het ook die Spel van die Wedstryd-toekenning ontvang.
Lillies se regtervleuel, Reduwaan April, het ook twee keer die doellyn oorgesteek en is ná sy tweede drie as voorsorgmaatreël met ‘n draagbaar van die veld gedra. Hy is as Speler van die Wedstryd aangewys.

Die Swartland se ander verteenwoordiger in die Top 12, Darling, speel Saterdag gasheer vir die span van Young Spurs van Doringbaai.
Darling se aanslag op die titel het nie begin soos hulle gehoop het nie en hulle het die afgelope naweek in ‘n wegwedstryd met 64-21 teen die sterk span van Robertson vasgeval.
Vir die Melkboere het die ervare Earl Lewis aldrie drieë van Hubert Cleophas, JP Abrahams en Kelvin Marthinus verdoel.
Young Spurs het die afgelope naweek in hul wegwedstryd met 46-16 voor Saldanha die knie gebuig.

Die volledige bepalings vir Saterdag (tuisspanne eerste):
15:00 – Villagers Worcester vs Abbotsdale
15:00 – Caledon vs Newtons
15:00 – Saldanha vs Safcol United
17:00 – Vanrhyndorp Eagles vs Vredenburg
17:00 – Darling vs Young Spurs
17:00 – Ceres vs Robertson

Leave a Reply

error: Content is protected !!