LatestSports

Darling veg terug vir tuissege

Die rugbyspan van Darling moes Saterdag diep grawe om hul tuiswedstryd in die Boland se Top 12-kompetisie deur te trek nadat die besoekers van Doringbaai, Young Spurs, in een stadium met 29-10 voor was op die Gabriel Pharaoh-veld.

Die tuisspan se Henwill Cleophas het wel vroeër met ‘n drie die rekening geopen en sy span aanvanklik laat voorloop met 5-0.
Die span uit die Noordwes-streek het egter ander planne gehad en eers met ‘n strafdoel en toe ‘n verdoelde drie geantwoord om met 10-5 die voortou te neem.
Darling se Angelo Thompson het ‘n uitstekende breekslag en lopie van JP Abrahams afgerond om die telling 10 elk te maak.
Spurs het egter kort voor rustyd met die wind nog in hul blaaie ná ‘n goeie stukkie spel weer die voortou geneem met hul tweede verdoelde drie en die spanne het gaan water drink met die besoekers voor met 17-10.

Tien minute in die tweede helfte het Young Spurs teen die verloop van die spel ‘n kommunikasiefout uitgebuit en die voorsprong met nog ‘n drie gerek na 22-10.
Oomblikke later het die skeidsregter ‘n strafdrie aan die besoekers toegeken en die telling was skielik 29-10 teen die Melkboere.

Net toe dit lyk of die tuisspan nie die wind tot hul voordeel gebruik en op die voorvoet kon kom nie, het hul kort voor die lemoenbreek met hul voorspelers ‘n paar fases opgestel vir ‘n verdoelde drie.
Dit het die agterstand na 29-17 laat krimp. Nog ‘n drie het gevolg en met die ervare Earl Lewis wat weer in die kol was, was die agterstand toe 5 punte. Lewis het ook sy ritme gevind en sy stempel op die wedstryd begin plaas.
Ná nóg ‘n drie, verdoel deur Lewis, het die tuisspan vir die eerste keer sedert vroeg in die eerste helfte weer voorgeloop.
Spurs het alles in die stryd gewerp, maar Lewis kon met ‘n strafdoel in die doodsnikke die sege verseël met 34-29.

Darling se driedrukkers was: Henwill Cleophas, Wildon Marsh, Angelo Marsh, Angelo Thompson en Renfred Adams.
In die volgende ronde kom Darling in ‘n wegwedstryd op Grabouw teen die sterk span van die verdedigende kampioenklub, Safcol, te staan. Laasgenoemde is tans tweede op die punteleer in Groep B nadat hulle Saldanha Saterdag naelskraap geklop het met 27-25.

*Met Abbotsdale, die Swartland se ander aanspraakmaker in die Boland Top 12-kompetisie, het dit ná hul sege vroeër oor Young Eagles die afgelope naweek nie so goed gegaan nie.
Lillies het na Worcester gereis en moes die knie buig voor die gedugte span van Villagers Worcester, wat nou bo-aan die punteleer is in Groep A. Die eindtelling in Saterdag se kragmeting was 55-8 in die tuisspan se guns.
Abbotsdale, tanse vierde op die punteleer, speel die komende naweek tuis wanneer hulle besoek ontvang van Newtons (tans 5de) van Wellington.

Leave a Reply

error: Content is protected !!