LatestSchoolsSports

HSS wil hoëprestasiesentrum, padelbane bou

Die Hoërskool Swartland op Malmesbury beoog om ‘n splinternuwe hoëprestasiesentrum (HPS) onder op die skoolterrein voor die skool te bou waar die krieketkleedkamers is en die ou hoofnetbalbaan was.

Volgens die beplanning sal die nuwe fasiliteit ‘n gimnasium en kondisioneringsentrum, padelbane, twee binneshuise krieketnette, ‘n onthaallokaal en ‘n konsessie-koffiewinkel insluit en ook ‘n fisioterapeut huisves.
Die sentrumplanne is verlede week bekendgestel.

‘n Voorlopige voorstelling van die sentrum en padelbane

“Die sentrum is die begin van die groter visie om die skool as toonaangewende sportinstelling te vestig. Hierdie fasiliteit sal dien as ‘n hoeksteen vir die groei en ontwikkeling van ons leerders. Dit bied die geleentheid aan leerders om hulle sportpotensiaal te ontwikkel, maar ook ‘n passie vir oefening te kweek, wat ‘n positiewe invloed op beide hul fisiese en emosionele welstand sal hê. Die HPS sal ook aansienlike voordele vir die breër gemeenskap inhou,” lui die inligting wat die skool uitgereik het.

*Padel is ‘n gewilde nuwe sport en een van die snelgroeiendste sportkodes. Dit word beskryf as ‘n kombinasie van tennis en muurbal. In padel kan die bal ook van die mure af gespeel word soos met muurbal. Padel word op ‘n kleiner baan as tennis gespeel met ‘n effense laer net en daar is ook nie die kragtige afslane soos met tennis nie. Afslane behels dat die bal eers op die grond moet bons en slegs onder die arm vanaf middellyfhoogte.

Die bal mag ook net een keer hop. Anders as met tennis en muurbal waar die rakette met snare gespan is, gebruik padel soliede spane wat korter is en met klein gaatjies op die oppervlak. Daar word ook meer op gewrigaksie staatgemaak as in tennis.

Die padelbal is effe kleiner en hop ook nie heeltemal so hoog soos ‘n tennisbal nie. Al is daar enkelwedstryde, is veral dubbelwedstryde meer gewild. Die standaardtennisbaan is 23,77m x 10,97m (vir dubbelspel) teenoor die 20m x 10m van ‘n padelbaan.

Leave a Reply

error: Content is protected !!