LatestSports

Tydrentyd in die Swartland

Die enjins brul, die klippe spat en die stofwolke hang weer hierdie naweek ekstra lank in die Swartland.
Die Wes-Kaap se tydrenseisoen loop Saterdag ten einde met die sesde en laaste been, die CPMCC-tydren, wat hier beslis word.

Die aksie in die kampioenskapstydren skop die oggend om 09:00 by die Kersefontein-sandmyn langs die R302-Klipheuwelpad af.
Daar is ses trajekte en die dienspark en eindpunt (parc fermé) van die dag sal weer by Hoërskool Swartland op Malmesbury ingerig wees.


Onder die deelnemers tel die Swartlandse sibbe Juneyed Edas en sy susternavigator Rehanah wat weer hul slag gaan wys. Hulle neem in klas S2 in hul 1.6 Toyota Conquest deel.

Die eerste trajek oor 8,27 km eindig naby Kalbaskraal en die eerste voertuig word van 09:30 af daar verwag.
Daar is twee toeskouerpunte langs die roetes vir die dag. Die eerste een is langs trajek 1 (by 33°36’38.9″S 18°42’45.1″E) en by die tweede een (by 33°20’54.1″S 18°47’11.0″E) kan toeskouers die aksie in trajekte 2, 4 en 6 beleef, terwyl daar geen toeskouerpunte op trajekte 3 en 5 is nie.

Die tweede (14,17 km) en vierde (14,17 km) trajekte sal volgens die skedule onderskeidelik om 10:34 en 12:55 begin en eindig op die plaas Uitkyk langs die ou Piketbergweg (DR1149), terwyl die sesde trajek (14,12 km) om 15:02 by Taaiboschfontein wegspring.
Trajekte 3 en 5 (10,26 km) word by Boesmansfontein beslis.
Die prysuitdeling vind by Hoërskool Swartland plaas.

Leave a Reply

error: Content is protected !!