CommunityLatest

Nuwe Moorreesburg-sentrum: ‘Ons kinders is ons toekoms’

Die Imibala Trust se vierde jeugsentrum open eersdaags op Moorreesburg om behoeftige kinders te ondersteun met skooluniforms en verdere ontwikkelingsgeleenthede.
Die trust is 24 jaar gelede deur Gaynor Rupert gestig om die nood onder behoeftige kinders te help verlig. Rupert is steeds die voorsitter van die raad.
Hul het die eerste sentrum van Imibala destyds in Somerset-Wes begin en dit het intussen baie uitgebrei. Die ander twee sentrums is tans op Graaff-Reinet en op Hermanus.

Quentin du Plooy, bestuurder van die nuwe Moorreesburgsentrum wat volgens beplanning in Augustus sy deure sal open, verduidelik aan dié courant dat baie kinders weens omstandighede uit die skoolsisteem val.
Een van die talle oorsake is die feit dat hul ouers nie skooluniforms kan bekostig nie.
Die skole help dan om dié kinders te identifiseer sodat hulle van uniforms voorsien kan word.

Quentin du Plooy (regs), bestuurder van die nuwe sentrum, het gister een van die eerste nuwe bome op die terrein help plant.

Die sentrum maak reg vir ongeveer 100 kinders van skoolgaande ouderdom van Maandag tot Vrydag. Daar sal onder meer kuns-, drama- en dansklasse asook rekenaarklasse vir die verskillende ouderdomsgroepe aangebied word, ook volgens hul vermoëns, sê Du Plooy.
Die Moorreesburg Sakekamer speel ‘n aktiewe rol om in samewerking met die plaaslike owerhede en plaaslike besighede die sentrum te ondersteun en van stapel te help stuur.

Rolspelers het gister die sentrum, wat tans onder konstruksie is, besoek om talle bome te plant.
Dit het plaaslike skoolhoofde, sakelui, amptenare en ander weldoeners ingesluit. Die Springboksewespeler Dewald Human het ook kom hand bysit in die plant van die bome.

By die boomplantdag gister was David Joubert (munisipale bestuurder van die Weskus Distriksmunisipaliteit), Debbi Massyn (operasionale bestuurder van Imibala), Cobus van der Merwe (direkteur van die Moorreesburg Sakekamer), Theo Willemse (uitvoerende bestuurder van die Imibala Trust), Fritz Els (voorsitter van die Moorreesburg Sakekamer), Madelein Groenewald (sekretaresse van die Moorreesburg Sakekamer), Quentin du Plooy (bestuurder van die nuwe Imibalasentrum op Moorreesburg) en Chantél Bezuidenhout (van EXP Realty).

Fritz Els, voorsitter van die sakekamer se direksie, het by die geleentheid almal betrokke bedank en gesê van die Sakekamer se kant is hulle baie dankbaar dat Imibala Moorreesburg gekies het vir hul vierde sentrum.

Die Springboksewespeler Dewald Human het ook ‘n boom geplant.

Die Imibala Trust se uitvoerende bestuurder, Theo Willemse, het aan dié courant gesê hulle kan nie wag om die kinders van Moorreesburg te begin ondersteun nie. Die trust beplan ook om in die nabye toekoms 20 kleiner satellietpunte verder op die platteland in te rig van waar skooluniforms aan kinders beskikbaar gestel kan word.

Die burgemeester van die Swartland Munisipaliteit, Harold Cleophas (links), in gesprek met die skoolhoof van Moorreesburg Hoërskool, Wilbur Bosman.

“Dit gaan alles oor die kinders. Ons het al meer as 90 000 kinders tot dusver gehelp, so die 100 000-merk kom nader.
“Ons kinders is ons toekoms.”

Imibala het ook nou begin om na die buiteland uit te brei met kantore in plekke soos Londen, Amsterdam, Frankfurt, Genève en New York.
Willemse het Marina Busse bedank vir haar finansiële bydrae om die Moorreesburg-sentrum moontlik te help maak.

Theo Willemse, uitvoerende bestuurder van die Imibala Trust, en weldoener Marina Busse plant ‘n boom.

Leave a Reply

error: Content is protected !!