Agri/BusinessLatest

Swartland is in die perfekte spasie – LUR vir toerisme

Niks is vir my nou meer belangrik as om die plattelandse karakter, erfenis en geskiedenis van die mense uit te stal nie.
Só het die Wes-Kaap se LUR vir toerisme, dr. Ivan Meyer, verlede week tydens ‘n besoek aan Riebeek-Kasteel gesê.
Swartland Toerisme het Meyer ontvang by Rusty Cantina in Short Street wat die geleentheid moontlik gemaak het. Verskeie toerismerolspelers in die Swartland het dit bygewoon.

Meyer, tans die provinsie se LUR vir landbou, ekonomiese ontwikkeling en toerisme, het die Swartland aangemoedig om toerisme na ‘n hoër vlak te neem.
“Toerisme gaan oor twee goed. Dit gaan eerstens oor mense en dan oor plekke. Nie andersom nie.”
“Die wêreld is besig om te verander. Mense soek ‘n uitlaatklep en die uitlaatklep is toerisme, maar ‘n ander vorm van toerisme. Nie meer Tafelberg, Kaapstad of Robbeneiland nie.
“Dit is nou die tyd wat mense kyk na ander bestemmings.
“Landelike toerisme gaan nou die hooffokus van my departement wees.”
Om dit internasionaal te bevorder buite Kaapstad. Kaapstad kan nie meer die toerismedruk hanteer nie. “Kaapstad is vol geboek vir die volgende ses maande. Hoe sê hulle: die pot kook oor”.
“My werk is om te sê kom na die Swartland. Daar is plek.
“Mense soek klein plattelandse toerismeskatte en bates.”
Hy het melding gemaak van “die Swartland kykNET Buite-ekspo” wat “elke jaar een van die grootste toerismegeleenthede is. Ek ondersteun dit reeds die laaste 10 jaar.”
“Swartland is in die perfekte spasie.

“Wat soek jy in die Kaap? Hier is alles. Die mense soek die rustigheid van hierdie plekke – binne ‘n 2 ure-radius.
“My rol is om te kyk hoe kan ons hierdie bates ontsluit met meer mense om dit te besoek.
“Ek het besluit dat ons nou die onkonvensionele toerismeroetes moet inbeweeg. Onder andere ook spoortoerisme. Dit moet weer herleef word.”
Hy het bygevoeg dat hy kleindorpontwikkeling wil stimuleer. Ek wil ambassadeurs en konsulgeneraals van ander lande hier hê.”
Meyer het voorgestel dat Swartland Toerisme saam met sy departement vyf produkte identifiseer wat van hier na die buiteland uitgevoer word en dan vyf ambassadeurs van daardie lande nooi om die produkte te kom besoek. Só verkoop jy jou dorp en streek aan die ambassadeurs. Hulle kan dan teruggaan en vir die hele wêreld vertel gaan Riebeek-Kasteel toe. Gaan Yzerfontein toe of Darling.”

Hy het ook versoek dat Swartland Toerisme ‘n langtafelgeleentheid in Riebeek-Kasteel begin waar mense hulle stories kan deel. “Toerisme gaan oor mense en hulle stories.”
‘n Tafel “simboliseer dat ons saam is en ons is beter saam. Dit simboliseer ook kulturele warmte. Mense sal van Kaapstad kom.”
Meyer het ook gesels oor plekke oorsee waar daar ‘n bedheffing is en die fondse in toerisme teruggeploeg word. Daar is ook toersmebelastings wat toerisme kan bevorder.
Wes-Kaap se LUR vir toerisme, dr. Ivan Meyer, besoek Riebeek-Kasteel.
“Ons is nog nie daar nie, maar ek het reeds opdrag gegee dat ons saam met tesourie die moontlikheid van ‘n toerismeheffing in die Wes-Kaap ondersoek.
“Ek wil nie hê die toerismeheffing moet na die provinsie se fondse gaan nie. Dit moet na die toerismebedryf gaan. Dan bevorder jy toerisme. Ons is nog nie daar nie, maar ons is in daardie beweging.”
“Internasionale toeriste is reeds gewoond daaraan,” het Meyer bygevoeg.

Leave a Reply

error: Content is protected !!