Agri/BusinessLatest

SA, Georgië Sakekamer vier 10j in die Swartland

Uitruilprogramme en samewerking in onder meer die wynbedryf en rugby is van die suksesstories van die Suider-Afrika, Georgië Sakekamer wat verlede week sy tiende bestaansjaar op Kloovenburg op Riebeek-Kasteel gevier het.
Die voorsitter van dié sakekamer, Marius Heyns, het vertel dat die 40ste wynmaker later vanjaar vertrek om aan dié uitruilprogram tussen Suid-Afrika en Georgië deel te neem, terwyl 26 wynmakers uit Georgië, waar wyn van die vroegste tye af gemaak word, al hier kom werk het.
Die program vind ook plaas in samewerking met wynwetenskapdepartemente aan Stellenbosch Universiteit, die Tbilisi Vrye Universiteit en die Telavi Staatsuniversiteit.

Georgië se huidige ambassadeur, Roland Beridze (65) het via ‘n virtuele verbinding uit Pretoria na die vieringe ingeskakel en oor samewerking tussen die twee lande en die rol van die sakekamer gesels.
“Daar was oor die laaste 10 jaar baie goeie samewerking en ‘n noue verhouding tussen die sakekamer en die ambassade. Ons sien daarna uit om die verder uit te bou.
“Die sakekamer is baie suksesvol en instrumenteel in die bevordering van handelsbetrekkinge tussen Georgië en Suider-Afrika.”
Ook “om mense byeen te bring en kontakte te bewerkstellig op die gebied van kultuur en sport, veral rugby”.
Hy het ook melding gemaak van die uitruilprogram tussen wynmakers uit die Kakheti-streek en die Wes-Kaap.
Beridze se voorganger en Georgië se eerste ambassadeur na meer as 10 Suider-Afrikaanse lande, Beka Dvali (47), is tans sy land se ambassadeur in Australië, Nieu-Seeland en ander.

Die gaste, waaronder die gasspreker, dr. Ivan Meyer (Wes-Kaap se LUR vir landbou, ekonomiese ontwikkeling en toerisme), en die burgemeester van die Swartland Munisipaliteit, Harold Cleophas, het ook geluister na ‘n spesiale boodskap van Dvali.
Hy het die sakekamer gelukgewens en bedank vir die rol wat dit die laaste 10 jaar gespeel het.
“Ons bly deurlopend daartoe verbind om nuwe vennootskappe te sluit.”
Suider-Afrika, Georgië Sakekamer vier 10de bestaansjaar op Riebeek-Kasteel
Oor sy bykans 10 jaar as ambassadeur hier het Dvali gesê hy sal Suid-Afrika altyd onthou. “Jy kan Suid-Afrika verlaat, maar Suid-Afrika sal jou nooit verlaat nie.”
Meyer het gesê gegewe die “geopolitiese spanning in die wêreld, is dit nou meer en meer belangrik om verhoudinge te bou.
“Ons het nie net in Suid-Afrika en in Georgië nou vrede, veerkragtigheid en stabiliteit nodig nie, maar ook internasionaal.”

Leave a Reply

error: Content is protected !!