Kloovenburg buit SA-titel vir ingelegde vrugte
Ingelegde swart olywe het pas vir Kloovenburg op Riebeek Kasteel die eerste SA-titel vir ingelegde vrugte opgeraap in die heel eerste SA Preserveerkampioenskappe wat vanjaar deur Agri-Expo aangebied is.
Dié SA Kampioen was een van meer as 450 inskrywings wat in elf afdelings meegeding het.

Die kampioen ingelegde Swartland Mission-olywe van die Kloovenburg-landgoed is gemarineer in ‘n braambessiesous met vars tiemie. Naas die beste in sy olyf-subafdeling, is dit ook die ingelegde vrugte-kampioen.
Die wenners is gister aangekondig.
Kloovenburg Olives Black Olives in Blackberry Dressing was een van 456 inskrywings van 66 vervaardigers in die splinternuwe Suid-Afrikaanse Preserveerkampioenskappe.
Compagniesdrift se Makataan Chunks is aangewys as die SA Preserveerproduk van die Jaar.
’n Beoordelaarspaneel van 38 kenners het die inskrywings tydens ’n blinde proeproses geëvalueer.

Uiteindelik is die volgende 11 produkte as beste in hul afdelings aangewys (alfabeties):
Blatjang: Montagu Foods – Shoprite Housebrand/Ritebrand Peach Fruit Chutney
Groente in sous: Creative Cuisine – Pantry Curried Baby Onions
Ingelegde groente: Jumping Jackal Delicacies – Pickled Jalapeño Whole
Ingelegde vrugte: Kloovenburg Olives – Black Olives in Blackberry Dressing
Jellies: Domein Doornkraal – Plum Jelly
Konfyt: Uit-Die-Bottel – Quince Jam
Marmelade: Hemelhuijs – Kumquat Conserve
Pesto: Pesto Princess – Sundried Tomato Pesto
Relish: Miami – Boerie Relish, Sweet Tomato
Tapenade: Willow Creek – Olive Tapenade with Black Olives, Anchovies & Capers
Vrugte in stroop: Compagniesdrift – Makataan Chunks (Ook aangewys as SA Preserveerproduk van die Jaar)

Foto: Agri-Expo/A Gorman Photography.
Volgens Breyton Milford, hoofbestuurder van Agri-Expo en organiseerder van die kampioenskappe, is die kompetisie geskep om preservering in die kollig te plaas, erkenning aan topgehalte produkte te gee en sodoende ekonomiese ontwikkeling te help bevorder.

“Die groot aantal inskrywings wys duidelik daar is ’n behoefte in die bedryf vir só ’n platform,” sê Milford. “Die uitslae getuig van ’n innoverende sektor en gesonde mededinging – van gevestigde handelsmerke tot kleiner en opkomende vervaardigers. Baie geluk aan al die wenners.”
“Suid-Afrikaanse verbruikers kan werklik kies en keur wanneer dit kom by gehalte,” het die koskenner, opleidingspesialis en hoofbeoordelaar, Susina Jooste, bygevoeg.
