FEATUREDSports

Lillies weer in Top 12; dié keer saam met Koringboere

Dis amptelik. Die twee top-spanne wat die Swartland sal verteenwoordig in Boland Rugby se gesogte Top 12-kompetisie is Wesbank en Abbotsdale.
In die Top 12 meet hulle kragte met die top-spanne uit die ander 5 Grootuitdaag-streke.
Beide spanne het nog elkeen ‘n uitgestelde ligawedstryd oor, maar dit is bloot formaliteit.

Die Koringboere en Lillies lê tans op punteverskil onderskeidelik eerste en tweede op die punteleer, al het beide spanne 85 ligapunte.
Wesbank speel nog teen Voorberg en sal na alle waarskynlikheid nog vier of vyf ligapunte verdien. Abbotsdale het nog ‘n moeilike laaste wegwedstryd teen Mamre (tans 4de), maar het reeds genoeg gedoen om seker te maak hulle kan nie verbygesteek word nie. Lillies was verlede jaar saam met Darling die Swartland se aanspraakmakers in die Top 12.

Lillies het in die afgelope Saterdag se wegwedstryd teen Voorberg 54 punte aangeteken teenoor die tuisspan se 15 punte.
In die enigste ander Swartland Grootuitdaagkragmeting het Riebeek United op hul tuisveld met 19-34 teen Porterville vasgeval.

In die laer Streekuitdaagliga waar Swartland en Weskus-spanne saam meeding in die SwartWeskus-streek, het Saldanha Tigers ná 20 wedstryde bo-aan die punteleer geëindig.
Koringberg het die seisoen in die tweede plek afgesluit, slegs een ligapunt agter die kampioen.
Al is daar nog een uitgestelde wedstryd oor, eindig Coronations derde en Darling Young Tigers in die vierde plek.

Leave a Reply

error: Content is protected !!