Sports

Swartlanders toon karakter, maar buig knie

Karaktervolle vertonings deur die Swartland se twee verteenwoordigende spanne in Boland Rugby se Top 12-kompetisie ten spyt, moes beide – Wesbank en Abbotsdale – Saterdag die knie buig.
Wesbank het na Vredenburg gereis, na hulle verlede naweek oor Vanrhynsdorp Eagles.

Op Vredenburg het die Koringboere met rustyd met 19-15 en later met 35-22 voorgeloop, voor die die tuisspan teruggekom het. Die skeidsregter het in die doodsnikke ‘n strafskop voor die pale aan Vredenburg (toe nog met een punt agter) toegeken. Die skop was suksesvol vir die eindtelling van 37-35.
Wesbank is in Groep A van dié uitklopkompetisie en is tans in die tweede plek met 7 ligapunte.
Abbotsdale het op hul beurt Saterdag tuis teen die sterk Weskuskampioen, Saldanha, te staan gekom, nadat hulle die vorige week in ‘n wegwedstryd gelykop gespeel het teen Clanwilliam se Delicious.
Al was Lillies Saterdag ná ‘n drie eerste op die telbord, het die besoekers hul voete gevind en met rustyd 24-8 voorgeloop.

Saldanha het hul voorsprong verder vergroot en was in een stadium met 36-15 voor.
Lillies het egter met die vars bene van hulle plaasvervangers na ‘n totaal ander span begin lyk en kliphard terugbaklei. Hulle het in een stadium die agterstand tot 4 punte laat krimp.
Dié poging het straks net te laat begin en al het dit in een stadium gelyk of hulle die besoekers op die telbord sou inhaal, het die eindfluitjie net vir hulle te vinnig gekom.

Abbotsdale het uiteindelik hul tuiswedstryd met 42-32 verloor en beklee nou die vierde plek in Groep B.
Naas Wesbank (2de in Groep A met 7 punte) is die ander drie spanne wat in die eerste twee posisies van hul onderskeie groepe is, Roses United (Groep A) en Saldanha en Robertson (Groep B).
In die komende naweek se derde ronde speel Abbotsdale om 15:00 weg teen Hillcrest United terwyl Wesbank vir hul laaste wegwedstryd reis om Botrivier om 17:00 aan te durf.
Die ander wedstryde vir die naweek is (tuisspanne eerste) dié tussen Roses United en Vanrhynsdorp Eagles om 15:00; Delicious Noordwes en Robertson om 15:00; Vredenburg en Villagers Worcester om 17:00 en Saldanha en Safcol om 17:00.

Leave a Reply

error: Content is protected !!