Agri/BusinessLatest

Swartlander se 4-kuns as SA Meester

Die bekroonde suiwelboer van Darling JK Basson is pas wéér as Suid-Afrika se Nasionale Meestersuiwelboer van die Jaar aangewys.
Basson van die JK Basson Familietrust, wat al meermale die provinsiale wenner was, het nou vir die vierde keer sedert 2007 met die Landbounavorsingsraad (LNR) se Grootskaal Kommersiële Meestersuiwelboer-louere weggestap.

Hy het by die toekenningsgeleenheid almal bedank wat ‘n rol in die volgehoue sukses speel.
Basson boer op die plase Swartwater en Rooipan by Darling met Holstein-beeste. Hy is in 2007, 2017 en 2021 ook as wenner in die kompetisie aangewys.
Naas dié gesogte trofee het hy gister ook die toekenning vir die kudde met die beste interkalfperiode (375 dae) vir vanjaar ontvang.
Basson het melding gemaak van die belangrikheid van bestuur en innovering.
“Ons probeer om elke jaar of elke tweede jaar na lande soos Amerika of Europa te reis en te kyk na nuwe innovasies om te sien of daar iets is wat lyk of dit vir ons sal werk in ‘n volvoerstelsel om iets beter aan te pak vir volhoubaarheid en beter produksie.

Daar is verskeie faktore wat in ag geneem word met die bepaling van die finaliste en wenners in die onderskeie kategorieë.

“Ek is baie bly vir my werkers – hulle en my bestuurders se hardverdiende loon. Die toekenning is eintlik vir hulle. Ek wil ook vir my vrou net baie dankie sê vir haar goeie ondersteuning en alle eer aan die Here.”
Hy het vroeër ook die gehalte van genetika, goeie bestuurspraktyke, goeie voeding, waaronder goeie gehalte kuilvoer, en ‘n doelgerigte teelbeleid as van die belangrikste boustene vir suksesvolle melkboerdery uitgelig.
Basson se oupa het ‘n kleinskaalse melkery begin waarna sy pa dit in 1965 oorgeneem en baie meer intensief begin boer het.

Só het dié courant in 2013 berig – een van die kere toe Basson die provinsiale wenner was.

Hy het gefokus op voeding- en teelstelsels en die kudde geleidelik vergroot. In 1970 het hy die kudde geregistreer en in 1987 ingevoerde semen begin gebruik.
JK (jnr) het in 1990 betrokke geraak.
Hulle het in die vroeë 2000’s die kudde verder uitgebrei en die koeibehuisingseenheid bygevoeg en enkele jare later ‘n roterende melkstelsel geïnstalleer.
Die koeibehuising is onder meer toegerus met outomatiese waaiers wat aanskakel om die temperature laer te hou wanneer dit bo 20ºC styg.

Leave a Reply

error: Content is protected !!